Man probeer ‘Mona Lisa’ met koek besmeer

Die besmeerde Mona Lisa in die Louvre. (Foto: Skermgreep uit video)

ʼn 36-jarige man is in hegtenis geneem en in psigiatriese sorg geplaas nadat hy die glasskerm wat die Mona Lisa in die Louvre in Parys, Frankryk, beskerm, met koek besmeer het.

Die voorval het ten aanskoue van talle besoekers in dié museum in Parys afgespeel waar die ikoniese skildery uitgestal word.

Die kosbare werk van Leonardo da Vinci het in die verlede al verskeie kere onder aanvallers deurgeloop, maar is hierdie keer ongedeerd danksy die koeëlvaste glaskas waarin die skildery vertoon word.

“ʼn Man, geklee soos ʼn bejaarde vrou, het uit ʼn rolstoel gespring en probeer om die koeëlvaste glas van die Mona Lisa stukkend te slaan,” het een sosialemediagebruiker geskryf nadat hy video’s van die voorval gedeel het.

“Die man het koek op die glas gesmeer en oral rose gestrooi voordat sekuriteitsbeamptes hom getakel het.”

Daar kan in een video van die voorval gesien word hoe ’n museumamptenaar die koek van die glas afvee, terwyl ’n ander video wys hoe ’n man geklee in wit deur wagte weggelei word.

Daar is egter geen video’s waarin daar duidelik gesien word hoe die man koek op die glasskerm smeer nie.

Volgens inligting het die man tydens die voorval in Frans gesê: “Daar is mense wat die aarde vernietig… Alle kunstenaars, dink aan die aarde. Dis hoekom ek dit gedoen het. Dink aan die planeet.”

Amptenare van die Louvre wou nog geen kommentaar oor die voorval lewer nie.

Die kantoor van die Paryse staatsaanklaer het wel gesê ’n ondersoek na “’n poging om ’n kulturele werk te vandaliseer” is gelas.

Die Mona Lisa word agter koeëlvaste glas vertoon sedert ʼn Boliviaanse man in Desember 1956 ʼn klip na die skildery gegooi het en die linker elmboog in die skildery beskadig het. Die skildery is in 2005 in ʼn versterkte omhulsel geplaas wat ook temperatuur en humiditeit beheer.

Die skildery sou egter later weer deurloop toe ʼn Russiese vrou in 2009 ʼn leë teekoppie na die skildery gegooi en die glaskas effens gekrap het.

Die Louvre is die grootste kunsmuseum ter wêreld en die versameling van duisende werke het voor die Covid-19-pandemie sowat 10 miljoen besoekers per jaar gelok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Burgermeester ·

Aangesien ‘n mens nie ‘n mooi foto kon neem van die Mona Lisa nie, het verkope van poskaarte met haar gesig seker die hoogte ingeskiet by die geskenkwinkel.

annie ·

Mmm… Glo nie die storie nie… Die besoekers het seker geval en toe dink broe Zelensky dié plannetjie vir hul uit. Was net die ruit en die miljoene stroon in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.