Mans, harde praters versprei Covid-19 ‘makliker’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Navorsing wat die tempo van verspreiding van Covid-19 in die uitvoerende kunste wou bepaal, het ook nou onthul dat mans en mense wat veral hard praat meer geneig is om Covid-19-partikels deur hul spoeg te versprei.

Die navorsing wou oorspronklik die verband tussen die verspreiding van Covid-19 en die uitvoerende kunste ondersoek om te verseker dat akteurs wat na die verhoog moet terugkeer, dit veilig kan doen.

Die navorsing het egter ook ʼn reeks bevindinge oor die verspreiding van virus aan die lig gebring.

Navorsers van die Colorado State University (CSU) in die VSA het maande lank meer as 75 mense bestudeer, berig CBS News.

Prof. John Volckens, van die Departement Meganiese Ingenieurswese aan CSU, het saam met Dan Goble, direkteur van CSU se Skool vir Musiek, Teater en Dans, gewerk om die navorsing te doen.

Die navorsing het grotendeels in ʼn kamer plaasgevind wat gebruik word om partikels in die lug te toets. Deelnemers van verskillende ouderdomme en vaardighede moes liedjies soos “Happy Birthday” herhaaldelik sing, terwyl ander gevra is om liedjies op instrumente te speel.

Die bevindinge het gewys dat mense wat sing beslis meer spoegpartikels in die lug vrystel as wanneer hulle praat.

Hiermee saam het die navorsing ander interessanthede opgelewer.

“Volwassenes, veral mans, is geneig om meer partikels as kinders vry te stel,” sê Volckens. “Die rede hiervoor is dat mans se longkapasiteit veel groter is as dié van vroue en kinders.”

Volckens sê die virus versprei ook makliker onder mense wat teen ʼn harder volume praat.

“Die volume van jou stem is ʼn aanduiding van hoeveel energie jy daarin sit. Daardie energie produseer meer partikels wat uit jou liggaam vloei. Hierdie partikels kan Covid-19 dra en ander mense makliker besmet.”

Volgens die navorsers loop binnenshuise lokale waar die klank harder is en mense dus harder moet praat om mekaar te hoor ʼn groter risiko om Covid-19 te versprei. Plekke soos kroeë, sportsareas en konsertlokale kan veral veroorsaak dat Covid-19 vinnig versprei.

“ʼn Balletopvoering met ongereelde harde gehoorreaksies, is dus veiliger as ʼn musiekkonsert met duisende aanhangers wat sing of skree,” sê Volckens.

Goble sê die volgende fase van die navorsing sal wees om te bepaal watter instrumente meer geneig is om Covid-19 in ʼn vertrek te versprei.

“Gelukkig weet ons nou dat wanneer jy sing of uitermatig hard praat meer partikels versprei word, wat moontlik tot meer infeksies kan lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Irma ·

Nee B-Man, julle is nie muishonde nie, want daar is sekere vroue wie ook maar lekker hard kan gesels.

Willempie ·

Dit is twak. Die vroulike geslag het groter longe as die manlike geslag.

Marius ·

Ek is seker dat die spoeg ook spat as daar gefluister word. Ai tog.

piet ·

Vroue praat oor die algemeen meer so ek weet nie of hierdie eksperiment geloofwaardig is nie.

Eragrostis ·

Die navorsing was in Amerika gedoen. Natuurlik sal die mans daar wat hard praat meer Covid versprei, want Amerikaners is mos grootbek oor alles.

LD ·

Dis eintlik skreeu snaaks!!! Ek ken paar mense wat so lekker kan gesels dat die spoeg spat en soms kom die vals tande saam! En dis meestal vroue….

Anel ·

Hoe lekker lag ek nou. Enige iemand met bietjie verstand sal vir jou kan sê dat ‘n man se longkapasiteit groter as ‘n kind sin is, ook as ‘n vrou. Dis hoe mense gemaak is. Eintlik baie logies.

annie ·

Wat vertel jy my? Waar kan ek die navorsing in die hande kry? Ek belowe plegtig om die hardop te lag nie. Miskien kan dit vir die Nobelprys in aanmerking kom met geen hande geklap of oopbek-verbasing nie asb. En onthou tog Nobel staan vir geen drank tydens pandemies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.