Markte steier te midde van VSA-afgradering

Die New Yorkse Aandelebeurs (Foto: ANGELA WEISS / AFP)

Die internasionale graderingsagentskap Fitch het Dinsdag die VSA se staatseffekte vir die eerste keer sedert 1994 afgegradeer vanaf AAA na AA+ met ʼn stabiele vooruitsig.

Redes vir dié afgradering sluit in “die verwagte fiskale agteruitgang oor die volgende drie jaar, ʼn hoë en groeiende algemene staatskuldlas”, asook ʼn algemene “verwering van regering”.

Die afgradering kom te midde van voortslepende onenigheid in die huis van verteenwoordigers oor die verhoging of moontlike opheffing van die skuldplafon – ʼn kwessie wat volgens Fitch al “op die nippertjie tot herhaalde politieke strydpunte en resolusies gelei het”.

Die huidige Republikeinse meerderheid in die huis stamp gereeld koppe met die Demokratiese president, Joe Biden, oor die skuldplafon in hul pogings om ʼn meer konserwatiewe monetêre beleid te handhaaf.

Janet Yellen, hoof van die Amerikaanse tesourie, het in reaksie dié “ongevraagde” afgradering beskryf as “arbitrêr en gegrond op verouderde data”. Volgens Yellen “bly staatseffekte die wêreld se vooraanstaande veilige en likiede bate” met die Amerikaanse ekonomie wat “fundamenteel sterk is”.

Dit Withuis het Woensdag die afgradering ook ten sterkste veroordeel en dit bestempel as ʼn besluit wat die “werklikheid ondermyn”.

Fitch se besluit maak die eerste afgradering deur ʼn groot graderingsagentskap uit sedert S&P se afgradering in 2011 ná soortgelyke onenigheid oor die skuldplafon wat in ʼn doodloopstraat ontaard het.

Markte steier

Verskeie markte wêreldwyd het Woensdag op die agtervoet geopen en swakker gesluit te midde van markonsekerheid in die VSA.

Teen marksluiting Woensdag het die S&P 500 met 1,4%, die Nasdaq met 2,2% en die Dow met 1% gedaal. Markte in Asië het dié verswakking geëggo met die Nikkei 225 in Tokyo wat met ʼn daling van meer as 2% sy grootste enkeldagverlaging van die jaar getoon het. In Europa het die Franse DAX en die FSTE 100 met ʼn inkrimping van 1,4% gesluit, en die CAC 40 in Parys met ʼn daling van 1,3%.

Hoewel die afgradering korttermyn-onsekerheid in finansiële markte teweeggebring het, verwag ekonome nie veel negatiewe langtermyngevolge nie.

John Canavan, hoof-Amerikaanse ontleder by Oxford Economics, het aan AFP gesê hy verwag nie dat die Fitch-skuif ʼn “blywende markuitwerking” sal hê nie.

“Een sleutelrede daarvoor is dat die S&P-afgradering meer as ʼn dekade gelede reeds die damwal op hierdie front gebreek het.”

Maar “sielkundige ondersteuning vir skuld in dollars gehou” kan op kort termyn ʼn knou kry.

Omdat die VSA hul AA+-gradering met ʼn stabiele vooruitsig behou, kan dié afgradering dus grootliks as simbolies beskou word, met Fitch self wat min langtermynnewe-effekte verwag.

Enkeles met AAA-status

Slegs ʼn klein groepie lande handhaaf nog ʼn driedubbele A-gradering van Moody’s, Fitch en S&P. Australië, Denemarke, Duitsland, Luxemburg, Nederland, Noorweë, Singapoer en Switserland geniet nog dié perfekte gradering.

Verskeie ander lande het ʼn AAA van een of twee van die agentskappe, wat die geval met die VSA is wat steeds ʼn trippel-A-gradering by Moody’s het.

Verskeie lande in Europa is te midde van die 2008- finansiële krisis deur sekere graderingsagentskappe van hul trippel-A-gradering gestroop.

Bronne: Fitch, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Charles ·

Almal wou hul deel doen sodat dinge weer normaal gaan. Dit was nooit die beplanning nie.

Watsenaam ·

Hoe weet ons? Hulle ondersteun mos die “new world order” so dis dalk die plan

Charles ·

Daar bestaan nie so ding soos die NEW world order nie. So oud soos die berge,

annie ·

‘n Wall Street-insinking, ‘n aardbewing in Kalifornië en Duitsland geskud deur ‘n migrante opstand en die wêreld is ‘n totaal ander plek vir baie jare. Dit is nie onmoontlik nie, maar die Pentagon glo so. Net een van dié is erg genoeg.

Charles ·

Klink amper na n beplande storie deur n “hoër” hand. Ek’s nie n samesweringsteoretikus nie, maar partykeer lyk selfs natuurlike dinge vir my gefabriseer.

Blikkies ·

Eish, hierdie mense het darem hoë punte. Ons lê seker hier by -F rond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.