Massiewe ‘swartgat’ ontdek

Argieffoto ter illustrasie van ‘n gravitasiekolk. (Foto: VICTOR de SCHWANBERG/SCIENCE PHO / VSC / Science Photo Library via AFP)

Sterrekundiges het een van die grootste gravitasiekolke nóg ontdek met behulp van ʼn nuwe tegniek wat in die komende jare gebruik kan word om duisende meer van dié digte kosmiese voorwerpe raak te sien.

Die ultramassiewe swartgat, een van slegs vier wat al ooit waargeneem is, se massa is meer as 30 miljard keer dié van die son.

Dit is ook die eerste gravitasiekolk wat nog ooit waargeneem is met behulp van ʼn verskynsel wat gravitasielens genoem word, waartydens lig wat na die aarde beweeg vanaf ʼn verre sterrestelsel skybaar vergroot en na binne gebuig word.

James Nightingale, ʼn sterrekundige aan die Durham Universiteit in die Verenigde Koninkryk, sê die proses is “soortgelyk aan lig wat deur die basis van ʼn wynglas skyn”.

Hy sê ook dit was “baie toevallig” dat die lig van ʼn sterrestelsel in die verre heelal uiters naby aan hierdie gravitasiekolk, ongeveer twee miljard ligjare van die aarde af geleë, gereis het.

Supermassiewe gravitasiekolke is in die middel van sterrestelsels geleë waar swaartekrag so sterk is dat selfs lig nie kan ontsnap nie.

Nightingale sê die nuwe tegniek stel sterrekundiges in staat om gravitasiekolke te ontdek in die ander 99 persent van sterrestelsels wat tans ontoeganklik is.

Nightingale sê nou die jongste gravitasiekolk om ontdek te word kan moontlik die grootste wees wat nog ooit aangeteken is. Dit is egter moeilik om met sekerheid te sê, gegewe die verskillende tegnieke en onsekerhede wat betrokke is.

Vorige gravitasiekolke van hierdie grootte is waargeneem wanneer hulle groot hoeveelhede lig aan die kantlyne afgee – of deur die wentelbaan van sterre te meet wat versnel soos hulle verbygaan.

Hierdie tegnieke werk egter net vir sterrestelsels wat relatief naby aan die aarde is.

“Die landskap is egter op die punt om dramaties te verander,” sê Nightingale.

Die Europese Ruimte-agentskap se Euclid-sending vind in Julie plaas en sal ʼn “groot data-era” vir sogenaamde swartgatjagters tot stand bring deur ʼn hoëresolusiekaart van die heelal te skep.

In die volgende ses jaar kan Euclid 100 000 nuwe gravitasielense vind, wat moontlik na duisende voorheen versteekte gravitasiekolke sal wys, verduidelik ʼn opgewonde Nightingale.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.