Meer as 50 000 gevalle van aappokke wêreldwyd

Gesondheidswerkers kyk of mense wat van oorsee af kom simptome van aappokke het. (Foto: Arun Sankar/AFP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Woensdag aangekondig dat meer as 50 000 gevalle van aappokke wêreldwyd bevestig is sedert dit die eerste keer in Mei vanjaar in nie-endemiese wêrelddele aangemeld is.

Ten spyte van die jongste oplewing in gevalle, voer die WGO aan dat die verspreiding van die virus reeds by verskeie brandpunte in Europa en Kanada verminder het.

Vanjaar is daar reeds altesame 50 496 gevalle van die virus en 16 sterftes aangemeld. Die verspreiding het die WGO in Julie genoop om dit as ʼn wêreldwye gesondheidsnoodgeval te verklaar.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het egter gesê dat die afname in nuwe gevalle daarop dui dat die uitbreking hok geslaan kan word.

“Hoewel daar in die Amerikas, waar meer as die helfte van die gevalle aangemeld word, ʼn toename in gevalle is, is dit bemoedigend om ʼn volgehoue afwaartse neiging in Kanada te sien,” het Ghebreyesus tydens ʼn perskonferensie gesê.

“Sommige Europese lande, onder andere Duitsland en Nederland, ervaar ook ʼn afname in gevalle wat die doeltreffendheid aandui van openbaregesondheidsingrypings en gemeenskapsbetrokkenheid om infeksies op te spoor en oordrag te voorkom.

“Hierdie neigings bevestig wat ons al van die begin af gesê het: Met die regte maatreëls kan ʼn uitbreking soos dié hok geslaan word.”

ʼn Oplewing in gevalle van aappokke is in Mei in lande opgemerk waar die virus nie endemies tot die streek is nie. Sedertdien is die virus in 101 gebiede opgemerk, hoewel slegs 52 gebiede nuwe gevalle in die afgelope sewe dae aangemeld het.

Die lande wat in totaal meer as ʼn duisend gevalle by die WGO aangemeld het, is die VSA (17 994), Spanje (6 543), Brasilië (4 693), Frankryk (3 547), Duitsland (3 467), Brittanje (3 413), Peru (1 463), Kanada (1 228) en Nederland (1 160).

Nigerië het reeds vier sterftes by die WGO aangemeld, Ghana drie, Spanje en die Sentraal-Afrikaanse Republiek elk twee, terwyl Brasilië, België, Ecuador, Indië en Kuba elk een sterfte aangemeld het.

Ghebreyesus sê hy is vol vertroue dat die uitbreking nou in die “regte rigting” begin beweeg.

Rosamund Lewis, wat aan die hoof staan ​​van die pokke-sekretariaat van die WGO-noodprogram, het nietemin gemaan dat mense in gevaar is om die virus op te doen as hulle fisieke kontak van enige aard met iemand het wat die virus onder lede het.

Sy het bygevoeg dat daar egter nie in hierdie stadium enige aanduidings is dat die virus deur bloedoortappings oorgedra kan word nie.

Aappokke is ʼn seldsame virusinfeksie wat gewoonlik met ligte simptome verbind word en die meeste mense herstel binne ʼn paar weke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Laksman ·

mens kry so kleiiin groen rekkie op die plaas was glo baie goed werk vir die siekte

Lourens CFG ·

Sal werk ja, maar dit moet oor ALLES gesit word.
;-()

Henri ·

Die WGO laat my dink aan “The boy WHO cried wolf”. Aan die begin is die aap uit die mou gelaat wie hierdie aappokke oordra met hulle aapstreke.

VaalDonkie ·

Elke keer as ‘n kind apppokke kry, dan gee my hart so ruk

Madeleine ·

Vryheid van spraak is gelding maar lyk my nie as dit teen die regering is nie… Wereldwyd!!

Anel ·

So as ‘klomp mense nou begin nies kan ons dal ‘n uitbreek van iets hê en die wêreld weer toesluit. Of wat van agnek weet nie, iets wat meer as 10 mense kan kry deur vir mekaar te kyk. Dan is daar ewe skuelik weer een of ander paranoïse uitbreek van iets. Wens die wgo wil een of ander iets op dien en van die aardbol verdwyn! Hoe dom dink hulle is ons? Het hulle ons nie genoeg geteroriseer nie? Baie min mense gaan in elke geval weer vir hul nonses val!!!

Veronika ·

Hmmm en ons weet almal wat dit maar eintlik is. Soos Levitikus 20 vers 13 sê………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.