Meeste alkoholsterftes in VK in 20 jaar aangeteken

(Argieffoto: pixabay)

Alkoholsterftes in Engeland en Wallis het die hoogste vlakke in 20 jaar bereik ná ʼn skerp toename sedert die aanvang van die Covid-19-afsonderingsperiode, aldus regeringsdata wat Donderdag vrygestel is.

Die syfers van die Kantoor van Nasionale Statistieke (ONS) het gewys daar was 7 423 sterftes wat ʼn direkte oorsaak was van die misbruik van alkohol – ʼn 20% styging sedert 2019.

ʼn 17%-verhoging is in die tweede kwartaal van die jaar aangeteken, ná die Verenigde Koninkryk in Maart 2020 met sy eerste afsonderingsperiode begin het, gevolg deur 22% en 28% in die daaropvolgende kwartale.

Sadie Boniface, hoof van navorsing aan die Instituut vir Alkoholstudies, het gesê die verslag is “kommerwekkend” en die toename “stem ooreen met die aanvang van die pandemie”.

Die ONS-getalle wys daarop dat meeste van die sterftes met langtermyn alkoholmisbruik en -afhanklikheid verband hou, wat lei tot lewersiekte, alkoholvergiftiging en geestelike en gedragsafwykings weens die gebruik van alkohol.

Boniface sê die toename “word nie toegeskryf aan mense wat vroeër op laerisiko vlakke alkohol gebruik het en toe hul verbruik tydens die pandemie verhoog het nie”, maar sy beskryf dit as “beduidende veranderinge in drinkpatrone tydens die pandemie”.

Volgens haar is die redes vir die toename mense wat vroeër op hoërisiko vlakke alkohol gebruik het en dit hou ook verband met toegang tot gesondheidsorg.

“Hierdie sterftes was nie onafwendbaar nie, maar een van talle indirekte gevolge van die pandemie. Dit moet noukeurig bestudeer word in reddingsplanne,” het sy bygevoeg.

Die data wys dat alkoholsterftes beduidend hoër was in armer gebiede van Engeland en Wallis. Mans wat in die armste gebiede in Engeland bly, staan ʼn vier keer hoër kans om weens alkohol te sterf as dié wat in rykmansbuurte woon. Vroue in armer gebiede staan ʼn drie keer hoër kans as hul eweknieë in luukse buurte. Oor die algemeen staan mans ʼn twee keer groter kans om weens alkohol te sterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

DieKriek ·

Omtrent alle Suid Afrikaners is nou arm. Watter kans het ons mense?

melaney ·

Ek ken iemand wat algemene onderhoud in verskeie woonstelle aanbring. Hy vertel van die baie mense van alle rasse wat hul werk verloor en dan hul woonstel moet ontruim. Hulle weet nie waarnatoe en daarom kyk hulle ‘n bietjie dieper in die bottel.

Niklaas ·

Niemand kan hul kwalik neem nie. Maar drank is nie die oplossing nie en dit raak nou bietjie duur.

Danie ·

Iets wat ek tot die dood toe nie sal verstaan nie is dat hoe armer mense word hoe meer geld het hulle vir alkohol en tabak.
Indien dit finansieel met my sleg begin gaan sal ek heel eerste alkohol en tabak uit my menu haal want dit vreet geld.
Tweede is luukse/duur kosse.
Derde is petrol/diesel gebruik.
Ens ens.
Hoe op aarde voel jou jammer vir ‘n persoon wat heeldag gesuip en gerook is?

JohanR ·

Het ‘n werk kollega gehad wat aan alkoholisme oorlede is. Hy het tussen 1-2 uur gedrink, en as hy 5 uur by die werk weg is, was dit maar weer drink……7 dae ‘n week 365 dae ‘n jaar vir seker 30 jaar. Dit vreet jou lewer op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.