Mev. Sri Lanka steeds op troon ná kroon gegryp word

Jurie het op die verhoog die kroon van De Silva se kop afgepluk. (Foto: AFP)

Die wenner van ʼn Sri Lankaanse skoonheidskompetisie wie se kroon Sondag deur die vorige jaar se wenner van haar kop afgepluk is, gaan glo regstappe teen die betrokke partye doen nadat sy kopbeserings opgedoen het.

Foto’s en beeldmateriaal van die skones se relletjie op die verhoog het soos ʼn veldbrand versprei.

Die wenner, Pushpika de Silva, gaan Caroline Jurie, Mev. Sri Lanka Wêreld 2019 wat haar kroon gegryp het, dagvaar ná die vernederende voorval op die verhoog. De Silva is glo ná die voorval na ʼn hospitaal waar sy vir kopbeserings behandel is.

Jurie het Sondag enkele minute nadat sy De Silva as die nuwe Mev. Sri Lanka Wêreld 2020 gekroon het, gesê sy kan nie gekroon word nie omdat sy glo geskei sou wees.

Jurie het daarna die kroon van De Silva se kop afgeruk en haar tranerige eerste prinses gekroon. De Silva het ná die voorval van die verhoog gestap. Die voorval is regstreeks op televisie en sosiale media uitgesaai.

Volgens die Mev. Sri Lanka Wêreld-organisasie moet deelnemers getroud wees om vir die titel in aanmerking te kom. Hoewel De Silva van haar man vervreem is, is sy steeds wettig getroud.

De Silva word deur Jurie gekroon. (Foto: Mev. Sri Lanka Wêreld/Facebook)

De Silva is wel Dinsdag tydens ʼn kleiner seremonie weer as die wenner van Mev. Sri Lanka Wêreld 2020 aangewys.

“As iemand dink dat hulle my kan onderkry deur om hierdie soort ding te doen, is hulle verkeerd. Ek is ʼn ystervrou,” het De Silva gesê.

“Ek het ook reeds almal vergewe wat by hierdie voorval betrokke was.”

Die organiseerders van die kompetisie het intussen ʼn ondersoek van stapel gestuur en voer aan dat hy toepaslike stappe teen Jurie sal doen sodra die ondersoek afgehandel is.

“Haar optrede gaan teen die Mev. Sri Lanka-gedragskode en die voorafbepaalde regulasies wat sy onderteken het toe sy destyds gekroon is,” het Chandimal Jayasinghe, direkteur van die organisasie, gesê.

Die organiseerders eis reeds vergoeding van Jurie vir skade wat aan die verhoog en kleedkamers aangerig is nadat verskeie spieëls stukkend geslaan is. Jayasinghe het gesê dat Jurie duidelik die geleentheid in ʼn slegte lig geplaas het.

“Ek vra dat Jurie in ʼn verklaring verskoning vra vir haar gedrag.”

Jurie het nog nie kommentaar gelewer op die voorval nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

isabelle ·

ek het van die storie op radio gehoor …sy se n kopbesering ek dink meer die ego was gekraak…

deHAS ·

Dis Mevrou nie Mejuffrou kompetisie nie, dis die verskul. So ja, sy’t al die lewens pad gestap en daai is deel daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.