Miami: Dodetal styg; tientalle steeds vermis  

(Foto: Joe Raedle/Getty Images/AFP)

Die dodetal het tot nege gestyg nadat ’n woonstelgebou naby Miami Beach in die Amerikaanse deelstaat Florida vroeër vandeesweek gedeeltelik ineengestort het.

Meer as 150 mense word steeds vermis terwyl familielede en vriende al vir langer as vier dae wag vir nuus oor die lot van hul geliefdes. Die stadige reddingsoperasie, wat in uiterste hitte en hoë humiditeit geskied, duur voort.

Vier liggame is gevind nadat reddingswerkers ʼn reusesloot deur die puin gegrawe het. Agt van die oorledenes is reeds geïdentifiseer.

Ron DeSantis, goewerneur van Florida, het gesê van die puin word na ʼn groot pakhuis geneem om ondersoek te word ten einde die oorsaak van die ineenstorting te probeer bepaal.

Ingenieurs van Israel en Mexiko en soek-en-reddingspesialiste het intussen by die reddingsoperasie aangesluit.

Die 12 verdieping hoë Champlain Towers South-gebou in Surfside het Donderdagaand gedeeltelik ineengestort.

Pres. Joe Biden het Sondag gesê sy regering sal met plaaslike amptenare koördineer en is “gereed om die nodige ondersteuning of hulp te verleen”.

(Foto: CHANDAN KHANNA/AFP)

“Dit is ʼn ondenkbaar moeilike tyd vir die gesinne wat hierdie tragedie verduur,” het hy in ʼn verklaring gesê. “My hart gaan uit na elke persoon wat hierdie verskriklike ervaring deurmaak.”

Tot dusver is vier slagoffers deur die plaaslike polisie geïdentifiseer. Gladys en Antonio Lozano, onderskeidelik 79 en 83 jaar oud, die 54-jarige Stacie Fang, wie se 15-jarige seun Donderdag uit die puin gered is, en Manuel LaFont (54).

Minstens 18 Latyns-Amerikaanse burgers tel onder die vermistes. Kanada het ook gesê minstens vier van sy burgers word moontlik geraak.

Gesinne van die vermistes het hul frustrasie en woede uitgespreek omtrent die gewag op nuus. Daar is ook al meer woede nadat dit aan die lig gekom het dat ʼn ingenieur se ondersoek na die gebou in 2018 op “groot strukturele skade” aan ʼn betonblad gewys het sowel as ʼn groot hoeveelheid skade in die parkeergarage.

Die owerhede het egter benadruk dat dit maande kan neem om die presiese oorsaak van die ineenstorting te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.