Mickey, Minnie Muis se ouer weergawes nou openbare domein

Die ikoniese Disney-karakters Mickey Muis en Minnie Muis. (Foto: Mike Clarke/AFP)

Enkele dae nadat Disney beheer verloor het oor die kopiereg van die gewilde muiskarakters Mickey en Minnie se vroeër weergawes, verskyn dié bekende muise reeds in al wat ʼn sosialemediaskets en skertsvideo is.

Nie net is Mickey se kenmerkende fluit in ʼn dubstep-deuntjie omskep nie, maar mense laat dié karakter nou sommer ook vloek, op mense losbrand en selfs die Titanic sink.

ʼn Lokprent vir ʼn gruwelfliek, getiteld Mickey Mouse’s Trap, waarin ʼn moordenaar in ʼn verwronge Mickey Muis-masker ʼn groep jongmense in ʼn pretpark aanval, is ook pas uitgereik. Die fliek se vervaardigers spook egter nog om ʼn verspreider vir die rolprent vas te maak.

Nightmare Forge, ʼn videospeletjieontwikkelaar, het ook Maandag ʼn lokprent uitgereik vir Infestation 88, ʼn gruwelspeletjie met ʼn spookagtige Mickey wat in ʼn donker pakhuis spook. Fumi, nog ʼn ontwikkelaar, het ook ʼn speletjie met ʼn skieter genaamd Mouse onthul, wat bloederige amok saai.

Die skielike digitale oplewing van Mickey Muis en sy vriendin, Minnie, kom nadat die 1928-kortfliek, Steamboat Willie, se kopiereg op 1 Januarie vanjaar verstryk het.

Disney beskerm al vir dekades lank vurig die kopiereg van twee van die herkenbaarste karakters ter wêreld. Die kopiereg op Steamboat Willie sou aanvanklik reeds in 1984 verstryk het, maar Disney het dit suksesvol in die hof teengestaan, en wetgewing is gewysig vir kopiereg om eers te verstryk nadat die outeur of skepper van ʼn publikasie gesterf het, plus nog 50 jaar.

Daarna, in 1998, het Disney saam met ander vermaaklikheidsmaatskappy soos Universal weer die verstryking van die kopiereg teengestaan en die wetgewing is weer aangepas om eers 95 jaar ná aanvanklike publikasie te verstryk. Dié verlenging van die kopiereg op Steamboat Willie het tot einde 2023 beskerming vir Mickey en Minnie gebied.

Dit beteken die ouer weergawes van die karakters kan nou op enige manier deur enigiemand in die VSA gebruik word om nuwe stories en kunswerke te skep.

Kopiereg verskil egter van land tot land, wat beteken Steamboat Willie sal beskerm bly tot ten minste 2024 in sommige jurisdiksies wat beskerming bied op werke tot 70 jaar ná die dood van die laaste oorlewende skepper of skrywer – en Steamboat Willie se mede-skepper, Ub Iwerks, is eers in 1971 dood.

Hoewel Steamboat Willie in die VSA en ander lande sy kopiereg kwyt is, word Mickey Muis soos hy vandag geken word, steeds ingevolge streng kopiereg beskerm.

Ander bekende werke wat in 1928 uitgereik is en vanaf 1 Januarie in die openbare domein is, is Virginia Woolf se Orlando, JM Barrie se Peter Pan, All Quiet on the Western Front deur Erich Maria Remarque en Winnie-the-Pooh se Tigger.

Toe Winnie-the-Pooh in 2022 sy kopieregbeskerming verloor het, het hy ook ʼn moordenaar in die gruwelfliek, Blood and Honey, geword.

In Steamboat Willie het Mickey ʼn skerper neus, lang stert en geen pupille of stem nie. Latere weergawes van Mickey, met sy groot oë en rooi kortbroek, word steeds deur kopiereg beskerm. Dit sal egter oor komende dekades ook openbare besit word.

Mickey is egter ook ʼn handelsmerk wat onbepaald deur Disney hernu kan word. Dit gee maatskappye steeds ʼn mate van beheer oor ʼn karakter.

Disney, wat bekend is daarvoor dat hy sy karakters ten alle koste beskerm, het dit duidelik gemaak dat hy nuutskeppers wêreldwyd met ʼn valkoog dophou.

“Meer moderne weergawes van Mickey sal nie deur die verstryking van Steamboat Willie se kopiereg geraak word nie, en Mickey sal voortaan ʼn rol as globale ambassadeur vir die Walt Disney-maatskappy se storievertelling, park-aanloklikhede en handelsware wees,” het die maatskappy vroeër gesê.

Kyk hier na Steamboat Willie.

Bykomende bron: The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.