Minstens 26 dood toe boot in Uganda omslaan

Satellietbeeld van die Albertmeer (Foto: Publieke Domein via Wikimedia Commons)

Minstens 26 persone is dood toe hul boot omgeslaan het op Albertmeer, ‘n varswatermeer in Sentraal-Afrika wat die grens tussen Uganda en die Demokratiese Republiek van die Kongo vorm.

Die boot het Woensdag passasiers vervoer toe dit “ʼn sterk wind getref en gesink” het, het Ashraf Oromo, ʼn beampte van Uganda, Vrydag aan AFP gesê.

“Meer as 50 persone was aan boord. Ses-en-twintig liggame is gevind en 21 persone is gered,” het Oromo bygevoeg. “Die soektog duur voort, maar die verwagting is dat daar nie nog oorlewendes gevind sal word nie.”

Samuel Onyango, ʼn marienebeampte, het die voorval bevestig. “Weens ʼn versuim om aan veiligheidsmaatreëls te voldoen en weersomstandighede wat vinnig verander het, vind daar baie ongelukke op die Albertmeer plaas,” het Onyango gesê.

Minstens 18 persone het in Junie verdrink toe twee bote in afsonderlike voorvalle in die Demokratiese Republiek van die Kongo omgeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.