Musk laat vaar Twitter-transaksie

Elon Musk. (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

Elon Musk het Vrydag sy plan laat vaar om Twitter vir $44 miljard te koop. Hy beskuldig die sosialemedianetwerk van “misleidende” verklarings oor die getal vals profiele.

Musk se poging om weg te stap van die ooreenkoms, wat hy in April onderteken het, berei die weg voor vir ʼn epiese hofstryd oor ʼn miljard dollar kontrakbreukfooi en meer.

“Mnr. Musk kanselleer die samesmeltingsooreenkoms en laat vaar die transaksie,” het sy prokureurs in ʼn brief aan Twitter gesê. ʼn Afskrif van die brief is by die Securities and Exchange Commission (SEC) in die VSA ingedien.

Musk se ommekeer wys op “kopersverdriet” nadat hy $54,20 per aandeel aangebied het wat nou “belaglik” lyk, het Angelo Zino, senior aandele-analis by CFRA Research, in ʼn kennisgewing aan beleggers gesê voor die ooreenkoms finaal geskrap is.

Twitter hou vol dat nie meer as 5% van sy profiele deur sagteware in plaas van regte mense bedryf word nie. Musk glo dié getal is veel hoër.

Direk ná die nuus bekendgemaak is, het Bret Taylor, voorsitter van die raad van Twitter, onderneem om Musk te dagvaar kragtens die bepalings van die ooreenkoms. “Ons is vol vertroue dat ons suksesvol sal wees,” het hy gesê.

Musk was gedruk vir tyd om ʼn besluit te maak, met Twitter se raad wat aanbeveel het dat aandeelhouers die ooreenkoms tydens ʼn spesiale stemmery in Augustus moet goedkeur.

Musk (51), die wêreld se rykste man, het ʼn deel van sy fortuin in Tesla-aandele gebruik om lenings te ondersteun om Twitter te koop. ʼn Onstuimige mark het egter die elektriese motor se aandeelprys laat afneem.

Twitter se aandeleprys het in April tot $51,70 gestyg tot Musk se transaksie aangekondig is, maar het ʼn maand later tot $35,76 gedaal toe daar twyfel bespeur is oor sy voornemens om met die transaksie voort te gaan. Twitter se aandeelprys het Vrydag teen net minder as $37 verhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.