Musk praat openhartig oor Twitter

Die foto mag nie na 24 Desember gebruik word nie!

(Foto: OLIVIER DOULIERY / AFP)

Die miljardêr Elon Musk bestempel sy eienaarskap van Twitter as “taamlik pynlik”, “ʼn tuimeltreinrit” en “geen partytjie”. Hy gee ook toe dat hy dié sosialemediaplatform sonder om te skroom sal verkoop, sou die regte koper hand opsteek.

Musk het in ʼn openhartige onderhoud met BBC, sowat ses maande nadat hy Twitter vir $44 miljard gekoop het, gesê dat die afgelope paar maande uiters stresvol was. Hy voel wel dat hy “die regte ding gedoen het” toe hy die sosialemediaplatform in Oktober verlede jaar gekoop het.

Musk sê Twitter het in daardie stadium finansieel “net vier maande gehad om te oorleef”.

Nou gaan “dinge redelik goed” en “die webwerf werk”, vertel hy.

Daar is wél aande dat hy op ʼn rusbank in ʼn biblioteek op die sewende verdieping van Twitter se hoofkantoor in San Francisco deurnag, erken Musk.

Musk spreek in die openhartige onderhoud ook dáárdie gereelde omstrede twiets van hom aan.

“Het ek myself al verskeie kere in die voet geskiet met twiets? Ja,” erken die miljardêr. “Ek dink ek moet nie ná 03:00 twiet nie.”

Oor Twitter se finansies, sê Musk dat die platform nou eindelik bykans gelyk speel nadat die meeste van sy adverteerders aanvanklik aan Twitter onttrek en toe weer teruggekeer het.

Hy erken ook dat dit nie maklik was om Twitter se arbeidsmag van net minder as 8 000 tot sowat 1 500 te sny nie. Hy het ook nie ál die werknemers persoonlik afgedank nie. “Dit is nie moontlik om van aangesig tot aangesig met soveel mense te praat nie.”

Oor die kwessie van die geverifieerde blou regmerkies op die platform, sê Musk dié regmerkies sal teen die einde van volgende week van Twitterrekeninge verwyder word.

Musk het ʼn geskatte persoonlike fortuin van byna $190 miljard, wat hom die wêreld se naasrykste persoon maak, volgens die Forbes-miljardêrslys.

Kyk hier na BBC se onderhoud met Musk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Hardloop dit in die grond in en dan moet iemand weer kom help.

George ·

Maar Elon, toe Twitter gestem het dat jy moet verlaat, toe weier jy, teen jou “woord” fire mense op twitter, se hul sleg, delete tweets wat teen jou is maar jy is vir “freedom of speech” all talk. Die fabrieke en mense het genoeg bewyse om jou oop te vlek vir wie jy werklik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.