Musk sê ‘nee’ vir plek op Twitter-raad

Elon Musk. (Foto: Odd Andersen/AFP)

Elon Musk, die rykste man in die wêreld, het besluit om nie by Twitter se raad aan te sluit nie. Dit nadat hy meer as ʼn 9%‑aandeel in die sosialemediareus gekoop het en dus nou die grootste aandeelhouer van Twitter is.

Parag Agrawal, hoof‑ uitvoerende beampte van Twitter, het Musk se besluit Maandag in ʼn twiet aangekondig en gesê hy dink dit is maar beter so.

Kenners het aanvanklik bespiegel dat Musk se aankoop kan lei tot ʼn aktiewe belang en aggressiewe eienaarsrol in die platform en Twitter se aandeelprys het die hoogte ingeskiet.

Twitter het Donderdag aangekondig dat hulle vir Musk ʼn voorwaardelike plek op die raad aangebied het. Hy sou amptelik die posisie inneem sodra hy dit aanvaar en sy agtergrond nagegaan is.

“Ons het baie gesprekke met mekaar en met Musk gehad voordat ons hom ʼn plek op die raad aangebied het en was opgewonde oor wat Musk kon bied. Ons het ook duidelik begryp watter risiko’s dit inhou,” lui die plasing op Agrawal se Twitter-blad.

Musk het egter Saterdag laat weet dat hy nie die aanbod aanvaar nie. Volgens Agrawal is hulle steeds oop vir voorstelle van hul aandeelhouers af. “Musk is die grootste aandeelhouer en ons sal dus oop wees vir enige voorstel van sy kant af.”

Hy het benadruk dat die besluite wat geneem word en die manier waarop dit uitgevoer word, steeds in die raad se hande is en dat Twitter se doelwitte en prioriteite onveranderd bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Stel jou voor jy praat van jou grootste aandeelhouer as “dis beter as hy nie op die raad dien nie”.

Delia ·

Die man leef op die broodlyn..so het sy vriendin onlangs gesé.

Lourens CFG ·

Hy is slim, as hy op die raad was, is daar ‘n klousule dat hy nie nog meer aandele mag koop nie.
Nou kan hy soveel koop as wat hy wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.