Naderende sikloon kan tot nog oorstromings in Mauritius lei

Tropiese sikloon Belal is op pad na Mauritius. (Foto: Richard Bouhet / AFP)

Oorstromings in Mauritius het dié gewilde toeriste-aantreklikheid Maandag tot stilstand geruk, met tropiese sikloon Belal wat ál nader aan die eiland beweeg. Die sikloon het reeds groot skade in Réunion, ’n eiland in die Indiese Oseaan, aangerig.

Foto’s wat Maandag deur plaaslike media geplaas is, wys onder meer hoe voertuie deur vloedwater meegesleur word.

Die internasionale lughawe op die eiland het intussen aangedui dat hy om 16:30 (plaaslike tyd in Mauritius) tot verdere kennisgewing sluit. Banke, staatskantore en private ondernemings het ook hul deure gesluit en personeel huis toe gestuur.

Mauritius se weerdiens (MMS) het ʼn vlak 3 (uit 4)-waarskuwing uitgereik en mense gemaan om op ’n veilige plek skuiling te soek. Swaar reënbuie word oor die volgende paar uur verwag.

Teen 15:00 (Suid-Afrikaanse tyd) was die sikloon sowat 170 km wes van Le Morne, in die suidwestelike deel van die eiland. Die storm beweeg teen sowat 12 km per uur in ’n oos-suidoostelike rigting.

“Teen dié trant beweeg Belal gevaarlik nader aan Mauritius, en hou dit ’n groot gevaar vir die eiland in,” het MMS gesê.

’n AFP-korrespondent sê wydverspreide reën het reeds chaos in die hoofstad Port Louis en ander streke op die eiland veroorsaak.

Volgens MMS sal die sikloon waarskynlik oor die suidelike deel van die eiland beweeg, Dit word vroeg Dinsdagoggend suid van die eiland verwag.

Laagliggende gebiede naby die kuslyn is veral in gevaar.

Mauritius is ’n groot trekpleister vir toeriste wêreldwyd danksy die prentjiemooi wit strande en helder water.

Talle storms en siklone ontstaan egter jaarliks tussen November en April in die suidwes- Indiese Oseaan.

Sikloon Freddy het in Februarie verlede jaar grootskaalse reën in Mauritius veroorsaak en verwoesting in suidoos-Afrika gesaai, waaronder in lande soos Malawi, Mosambiek en Madagaskar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gaitsigubib ·

Ai tog, nou gaan ek seker nie soontoe kan vlieg nie. Dis nou jammer dat ek by die huis gaan moet bly nes die hele flippen Desember!

Joan ·

. . . . . en ek tel my seëninge dat ek nie die finanies het om soontoe te gaan nie . . . . . hoop net nie dit kom tot hier nie, want . . . . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.