Nagenoeg 70 mense is gewond tydens die aanval. Volgens berigte is die skieter vermoedelik van Oesbekistan of Kirgistan.
Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat dieselfde mense verantwoordelik was vir die bomontploffing op 28 Junie op die Ataturk-lughawe in Istanboel, waarin 36 mense dood en 147 beseer is.
Die skieter het eers ʼn polisiebeampte en omstander buite die klub doodgeskiet, voordat hy op die partytjiegangers losgebrand het. Daar was glo 600 mense in die klub, wat ʼn gewilde kuierplek is vir plaaslike bekendes, waaronder sangers, akteurs en sportsterre.
Minstens 24 van die oorledenes was buitelanders. 25 van die oorledenes was mans en 14 vroue.
Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het die voorval intussen ten sterkste veroordeel. Die raad het dit as ʼn “afskuwelike en barbaarse terreuraanval” bestempel.
Suleyman Soylu, die Turkse minister van binnelandse sake, het gesê die man het die aanval na bewering alleen uitgevoer. “Dit was ʼn bloedbad, ʼn daad van ware onmenslike wreedheid,” het Soylu gesê.
Turkye se president, Recep Tayyip Erdogan, het gesê hy sal nie toelaat dat terroriste chaos in die land saai nie.