Nalatigheid dalk oorsaak van Mexiko-treinongeluk

ʼn Gedeelte van die trein hang in die lug, met die voorpunt van twee treinwaens wat afwaarts na mekaar wys. (Foto: Pedro Pardo, AFP)

Daar is talle vrae oor die konstruksie en onderhoud van die treinbrug in Mexiko, die hoofstad van dié land in Sentraal-Amerika, wat Maandag inmekaargetuimel het en tot die dood van ongeveer 25 mense gelei het. Die president van Mexiko het gesê ʼn uitgebreide ondersoek sal gedoen word om te bepaal wat presies tot die treinongeluk gelei het.

Maroela Media het vroeër berig die treinspoor by die Olivos-treinstasie in die stad het meegegee en ’n passasierstrein het daarna neergestort. Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe die trein se waens by die treinstasie van die treinspoor na die grond tuimel.

Dosyne noodwerkers is na die toneel ontbied om die beseerde passasiers uit die waens te probeer red. Ongeveer 80 beseerdes is gered en na verskeie hospitale in die stad gehaas vir verdere mediese behandeling.

Die reddingspogings is Dinsdag tydelik opgeskort uit vrees dat die treinwrak dalk verder kan ineenstort. ʼn Gedeelte van die trein hang steeds in die lug, met die voorpunt van twee treinwaens wat afwaarts na mekaar wys.

Ongeveer 70 mense is in die ongeluk beseer. (Foto: Pedro Pardo, AFP)

“ʼn Deeglike ondersoek sal gedoen word om agter die kap van die byl te kom,” het pres. Andres Manuel Lopez Obrador tydens ʼn nuuskonferensie gesê. “Ons kan nie bespiegel nie, en nóg minder die moontlike oortreders die skuld gee sonder enige bewyse.”

Claudia Sheinbaum, burgemeester van Mexiko-stad, het ook onderneem om ʼn ondersoek na die betrokke metrolyn se infrastruktuur te laat doen. Die metrolyn sal intussen gesluit bly totdat die ondersoek afgehandel is.

Miguel Angel Mancera, voormalige burgemeester van Mexiko-stad, het in 2014 die dienste by talle treinstasies op dieselfde metrolyn opgeskort, omdat herstelwerk nodig was. ’n Ondersoek het later aan die lig gebring dat daar probleme met die ontwerp, werking en instandhouding van die metrolyn was.

Die gedeelte van die spoorlyn waar Maandag se ongeluk plaasgevind het, is deur die Mexikaanse miljardêr, Carlos Slim, se maatskappye gebou.

Volgens Fernando Espino, leier van die vakbond vir metrowerkers, het ingenieurs al by verskeie geleenthede foute aan die metrolyn aangemeld. “Die ongeluk kon weens nalatigheid plaasgevind het, omdat die foute aan die metrolyn jare lank nie ernstig opgeneem is nie,” het Espino gesê.

Obrador het drie dae van nasionale rou aangekondig vir die mense wat in die ongeluk omgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

En wie is dood? dié wat werk. Die verrotting van die wereld benadeel eerste die onskuldige, die ywerige, die vreedsame.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.