Nazi-tekens op blokke kokaïen gekry

Daar was altesaam 58 blokke kokaïen van 1 kg elk. (Foto: Peru se polisie/AFP)

Owerhede in Peru het vandeesweek beslag gelê op 58 blokke kokaïen van 1 kg elk wat die Nazi-kenteken daarop het. Hitler se naam was boonop ook op die blokke gedruk.

Die Peru-polisiediens se teendwelmafdeling het die ontdekking gemaak toe hulle ʼn hawe in Paita naby die grens van Ecuador gefynkam het, berig The Guardian.

Luidens ʼn polisieverslag was die dwelms versteek in ʼn skeepsvraghouer vol aspersies. Dit was op die Liberiese skip SC Anisha R wat vroeër in ʼn Ecuadoriaanse hawe vasgemeer was.

Die besending was glo op pad na België ten tyde van die beslaglegging.

Die polisie het nie gesê of enigiemand in verband met die dwelmbesending in hegtenis geneem is nie.

Peruaanse owerhede het voorheen al kokaïen met verskeie vreemde simbole daarop gevind, maar nog nooit voorraad met die Nazi-kenteken nie.

Owerhede in Peru skat dat die land sowat 90 ton dwelms, waarvan veral kokaïen, per jaar produseer en die meeste daarvan word na Europa verskeep, maar ook deur klein vliegtuie na Bolivia vervoer.

Volgens die Amerikaanse dwelmtoepassingsadministrasie is Peru die wêreld se naasgrootste produsent van kokaïen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.