New York-goewerneur bedank ná bewerings oor teistering

Andrew Cuomo, goewerneur van New York, het bedank. (Foto: AFP)

Die New Yorkse goewerneur, Andrew Cuomo, wat moontlik in ʼn staat van beskuldiging geplaas kan word weens bewerings van teistering deur 11 vroue en toenemende druk deur Demokrate, het Dinsdag sy bedanking aangekondig.

Die 63-jarige Cuomo is ʼn jaar gelede nog wyd geloof vir sy hantering van die koronaviruspandemie, voor ʼn storm van bewerings van seksuele teistering – en bewerings dat hy die omvang van sterftes in versorgingstehuise verdoesel het – om sy kop losgebars het.

Cuomo kom uit ʼn hoogs aangeskrewe politieke familie. Sy pa, Mario, het drie termyne as goewerneur gedien en sy broer Chris is ʼn steraanbieder op CNN – maar oor twee weke sal hy die tuig neerlê.

“Ek dink, gegewe die omstandighede, is die beste manier waarop ek nou kan help om opsy te staan en die regering toe te laat om sy werk te doen,” het Cuomo in ʼn regstreekse toespraak op TV gesê.

“My bedanking tree oor 14 dae in werking.”

Cuomo sal die leisels van een van die land se digs bevolkte state aan Kathy Hochul, ook ʼn Demokraat, oorgee. Hochul sal New York se eerste vrouegoewerneur word.

Hy het die bewerings van seksuele teistering, uitgestippel in ʼn opspraakwekkende verslag wat verlede week deur die staat se prokureur-generaal, Letitia James, bekend gestel is, herhaaldelik ontken.

“Die verslag sê ek het 11 vroue seksueel geteister. Dit was die hoofopskrif wat mense gehoor en gesien het. Die reaksie was woede, soos dit ook moes wees. Dit [die bewerings] was egter onwaar.”

Hy het gesê hy wil wel om verskoning vra vir enige vroue wat deur sy optrede beledig is.

“Ek was te familiêr met mense,” het Cuomo, wat eens genoem is as moontlike presidentskandidaat, gesê. “Ek gee mense drukkies en soene in die verbygaan, mans en vroue. Ek doen dit nog my hele lewe lank.

“In my gedagtes het ek nooit enige grens met iemand oorskry nie. Ek het egter nie besef tot watter mate daardie grens verskuif het en oorgetrek is nie.

“Daar is verskuiwings tussen generasies en kulture wat ek net nie ten volle besef het nie. Ek moes. Daar is geen verskonings nie.”

Pres. Joe Biden, wat verlede week ʼn beroep gedoen het dat Cuomo bedank, het Dinsdag net gesê hy “respekteer die goewerneur se besluit”.

Cuomo is in 2010 tot goewerneur van New York verkies en het in 2014 en 2018 gemaklik weer gewen en nes sy pa drie termyne lank gedien. Hy was vantevore die prokureur-generaal van New York en minister van behuising en stedelike ontwikkeling in die kabinet van oudpres. Bill Clinton voor hy goewerneur geword het.

Sy daaglikse konferensies in die begindae van die koronaviruspandemie is wyd geloof en het gelei tot bespiegeling dat hy oudpres. Donald Trump moontlik in 2020 die presidensiële stryd sou aansê. Hy het besluit om dit nie te doen nie, maar sou na verwagting volgende jaar weer probeer het om as goewerneur herkies te word.

Hy het die bewerings teen hom as polities gedrewe bestempel, maar sê hy het besluit om eerder opsy te staan omdat die stryd om ʼn staat van beskuldiging miljoene dollars sal kos, die regering sal oorneem en mense die harnas in sal jaag.

Cuomo het ʼn seepgladde oorgang beloof en die 62-jarige Hochul as “slim en bevoeg” bestempel.

Een van die vroue wat bewerings teen Cuomo gemaak het, het onder meer aangevoer hy het haar twee keer van agter gegryp en aan haar bors gevat terwyl hulle verlede jaar by sy huis gewerk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Miskruier ·

Die bybel waarsku nie verniet teen die mens wat homself hoog ag nie.

Thelsa ·

Kan ons politici in SA nie maar by hierdie man leer wanneer moet jy uittree in plaas van ONTKEN, ONTKEN, ONTKEN. Ek praat glad nie sy dade goed nie.

melaney ·

Thelsa, die hele anc gespuis wat ons land regeer (of regeer het) sal alles ontken totdat hulle nie meer in beheer is nie. En wanneer daardie dag aanbreek sal niemand eers ons land meer herken nie. Ons sal moet van vooraf begin opbou.

Piet Snot ·

“Die rewolusie eet sy kinders”: perfekte voorbeeld van ‘n ou liberalis wat nou gebyt is deur die kultuur wat hy help skep het, van vroue wat altyd geglo moet word ongeag die aard van hul bewerings (#metoo). En die ‘cancel culture’ wat hy help stook het.

Adriaan ·

Onder Cuomo se leierskap het New York herstellende coronavirus pasiente in ouetehuise laat opneem. In terme van beleid, wat intussen laat vaar is, is ouetehuise verbied om die pasiente te weier. n Direkte gevolg van sy optrede is dat New Yorkse ouetehuise van die hoogste coronavirus verwante sterftes in die VSA het.

Martie Smartie ·

Ha ha ha, staan die demokrate ook lekker agter die deur. Wonder of hy sy opvolger ook n drukkie gaan gee as hy loop he he

VaalDonkie ·

Dis mos die ou wat die oumense in die tehuise opgesluit het sodat hulle COVID moes kry.

marius ·

En hy gaan leef soos ‘n koning , net soos die spul in hierdie hool wat bedank as hulle uitgevang word .

Niklaas ·

Nee kyk, hy moet die les leer. Vir sulke gedrag , al is dit vreeslik lieftallig, is daar ‘n prys te betaal.

Ria ·

???????? Hy is onskuldig maar vra om verskoning. Hoe verstaan jy dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.