Nigerië-ontvoering: SA’ner, ander glo vrygelaat na losprys betaal is

Foto: Google Maps

Foto: Google Maps

Die groep werknemers van ʼn Australiese maatskappy, wat vroeër vandeesweek in Nigerië ontvoer is, is na berig word, vrygelaat.

Die groep, onder wie ʼn Suid-Afrikaner en Australiërs, is Woensdag in Nigerië op pad werk toe ontvoer. Punch, ʼn dagblad in Nigerië, berig op sy webtuiste die sewe werknemers van die Australiese myn- en ingenieursmaatskappy, Macmahon, is Sondag vrygelaat nadat die maatskappy glo ʼn onbekende bedrag as losprys betaal het.

Nelson Kgwete, woordvoerder van Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê Suid-Afrika se hoë kommissaris in Nigerië het bevestig die Suid-Afrikaner is vrygelaat.

Aanvanklik is berig vyf werknemers is ontvoer en dit was nie duidelik of iemand verantwoordelikheid vir die ontvoering aanvaar het en of ʼn losprys geëis is nie. Jude Ngaji, adviseur vir staatsveiligheid in die Cross River-staat, het ook aan Punch bevestig die mans is vrygelaat. Volgens Ngaji het van die mans beserings opgedoen en almal is behandel. Hulle was glo ook reeds met hul gesinne in verbinding.

Maroela Media het vroeër berig die groep is omstreeks 06:00 Woensdagoggend op pad werk toe oorval. Volgens berigte is die groep deur vier gewapende polisiebeamptes vergesel toe hulle by die Idundu-brug in Calabar, in die Cross River-staat, deur gewapende mans oorval is. Een van die bestuurders is glo doodgeskiet terwyl twee mense glo daarin kon slaag om te ontsnap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

KP ·

So is daar nou n presedent geskep en gaan dit nou al meer voorkom.

Frederik ·

My maat, dit gaan al vir jare so in Nigerië. Die duikers, wat aan die oliepypleidings werk, se bootjies word elke nou en dan gekaap en dan word hul aangehou totdat ‘n losprys betaal is. Een van die duikers, wat al jare daar werk, sê vir ons dat die kapers nie aggressief is nie, maar hul sal hou totdat die losprys betaal is. Hy self was al twee keer gekaap.

Rupert Ashford ·

Dit is nie die regerings nie maar die werkgewer wat betaal het. Ek sal nogal van my werkgewer verwag om so ‘n onderneming in my kontrak te skrywe as ek daar moet werk.

Nico ·

Lyk my Ghana is baie meer stabiel. My sus reeds 8 jaar daar en sy voel veiliger as in SA.

Jaycee ·

Regtig? ‘n Suid-Afrikaner word gyselaar gehou in ‘n Afrika-land waar so-iets blykbaar algemeen voorkom. Nou wag ons in spanning om te sien wat ons regering se reaksie gaan wees. Ek het ‘n vermoede dit sal die waarheid onderstreep dat SA weggesak het tot ‘n derderangse gesagsposisie in Afrika en dat ons regering eintlik vere voel vir die welsyn van sy burgers, solank die regerende elite net hulle sakke vol geld kan stop.

SkarrelKind ·

Jaycee – daai waarheid is la-a-nkal onderstreep – met ‘n vet, rooi filtpen. Die ANC hou die pen vas…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.