Nog drie Afrikalande kry malaria-entstof

Malaria-inentings (Foto: Nipah Dennis via Gavi Vaccine Alliance)

Nog drie Afrikalande het malaria-inentings ontvang vir miljoen kinders op ʼn vasteland wat sowat 95% van alle malariasterftes aanteken, het die Verenigde Nasies Donderdag gesê.

Afrika verteenwoordig sowat 94% van alle malariagevalle wêreldwyd, aldus die Wêreldgesondheidsorganisasie. Meeste van die sterftes is kinders.

Benin, Liberië en Sierra Leone sluit aan by ander Afrikalande wat die malaria-inenting aanbied as deel van hul kinderimmuniseringsprogramme, aldus ʼn verklaring deur die WGO en Unicef.

Meer as 2 miljoen kinders is sedert 2019 reeds in Ghana, Kenia en Malawi ingeënt. Dit het tot ʼn beduidende afname in ernstige malariasiektes en hospitalisasie gelei.

“Met die nuwe, veilige en doeltreffende malaria-entstof het ons nou ʼn bykomende middel om dié siekte te bestry,” het Austin Demby, minister van gesondheid in Sierra Leone, gesê. “Tesame met insekweerderbehandelde nette, doeltreffende diagnose en behandeling en binnenshuise besproeiing, sal geen kind hoef te sterf weens malaria nie.”

Benin het 215 900 dosisse ontvang en Liberië verwag dat sowat 45 000 kinders voordeel sal trek uit die aanvanklike 112 000 dosisse. Sierra Leone begin met 550 000 dosisse voordat die entstof by hospitale landswyd afgelewer word.

Twee entstowwe, RTS,S en R21, soos aanbeveel deur die WGO, word beskou as ʼn deurbraak vir kindergesondheid en malariabeheer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.