Nóg ʼn Dakar-jaer sterf

Edwin Straver van Nederland (10 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Bernat Armangue)

Die Nederlandse motorfietsryer Edwin Straver is dood ná ʼn ongeluk by die Dakar-veldtydren, het organiseerders Vrydag gesê. Dit is die tweede sterfgeval tydens vanjaar se wedren.

Die 48-jarige Straver het op 16 Januarie tydens sneltrajek 11 van die wedren, wat vir die eerste keer in Saoedi-Arabië aangebied word, ʼn ongeluk gehad. Hy is met ʼn noodhelikopter na ʼn hospitaal in Riyadh geneem en was in die hoësorgeenheid voor hy Woensdag na Nederland oorgeplaas is.

Organiseerders het gesê hulle is Vrydagoggend deur sy familie in kennis gestel dat Straver aan sy beserings beswyk. “Ons innige meegevoel aan Edwin se familie en vriende,” lui ʼn verklaring.

Straver het aan sy derde Dakar-veldtydren deelgeneem.

Maroela Media het vroeër berig Paulo Gonçalves van Portugal is op 12 Januarie tydens die Dakar-veldtydren dood. Die 40-jarige Gonçalves het halfpad deur sneltrajek 7 geval en is noodlottig beseer.

Spanje se Carlos Sainz het uiteindelik die veldtydren gewen en daarmee sy derde Dakar-titel verower. Sainz en sy navigator, Lucas Cruz, het die moordende wedren van 12 skofte met hul tyd van 42:59:17 uur gewen. Hy het sy vorige titels in 2010 en in 2018 ingeoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.