Nóg Namibiërs in hegtenis oor renosterhorings

Die vier renosterhorings wat van die verdagtes in beslag geneem is. Foto: Verskaf/wire.africannewsagency.com

Die vier renosterhorings wat van die verdagtes in beslag geneem is. Foto: Verskaf/wire.africannewsagency.com

Twee Namibiese sakemanne is op borgtog van N$50 000 elk vrygelaat ná hul verskyning in die Windhoek-landdroshof. Hulle is aangekla van die onwettige besit en poging tot handeldryf met vier renosterhorings.

Tangi Sheefeni Amon Namwandi en Jairos Shaalukeni is verlede week in Windhoek deur die polisie in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk gekry het dat die twee na bewering op soek was na kopers vir die vier renosterhorings.

Hulle het Maandag voor landdros Jermaine Muchali verskyn. Hulle het die aanklagte ontken en is vrygelaat met streng borgvoorwaardes en is beveel om op 26 September weer in die hof te verskyn.

Albei mans is beveel om hul reisdokumente te oorhandig en mag nie die Oshana-, Omusati-, Ohwangwena- en Kunene-omgewing verlaat sonder om die polisie in kennis te stel nie. Hulle moet ook drie keer per week by die naaste polisiestasie aanmeld.

Dié twee is in hegtenis geneem net twee weke nadat twee ander Namibiese sakemanne in Zambië in hegtenis geneem is terwyl hulle probeer het om drie renosterhorings, wat ook afkomstig is van Namibië, te verkoop. Hulle is in hegtenis geneem saam met Zambiese medepligtiges wat lede van die Zambiese lugdiens (ZAF) is.

Die saak het egter verlede week ʼn nuwe kinkel gekry toe polisie in Zambië ʼn senior intelligensie-beampte van die departement van nasionale parke en wildlewe in hegtenis geneem het, omdat hy na bewering renosterhorings uit ʼn kluis gesteel het waar dit gehou is voor aanbieding in die hof as bewysstukke in die verhoor van die twee Namibiërs en ZAF-beamptes.

Twee van die drie horings is in die intelligensie-beampte se huis gevind en hy het erken dat hy reeds die ander een verkoop het. Beslag is gelê op ʼn onbepaalde hoeveelheid kontant, vermoedelik die opbrengs van die onwettige transaksie. Die verdagte is ook op borgtog vrygelaat met ʼn verhoor-in-ʼn-verhoor wat volgende maand sal voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karolis ·

Mense, mense, mense, aitog ek het nie die regte woorde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.