Nóg seksklagtes teen Kevin Spacey

Kevin Spacey (Foto: Yuki IWAMURA / AFP)

Aanklaers in Londen het nou sewe nuwe aanklagtes van seksuele wangedrag teen die Amerikaanse akteur Kevin Spacey goedgekeur. Die House of Cards-akteur staan nou tereg op altesaam 11 aanklagtes van seksuele aanranding in Brittanje.

Die Crown-vervolgingsdiens (CPS) het Woensdag bekend gemaak dat Spacey aangekla sal word van “’n aantal seksuele aanrandings teen een man tussen 2001 en 2004”.

Die CPS, verantwoordelik vir vervolging in Engeland en Wallis, sê die sewe nuwe aanklagtes verwys na beweerde misdade wat voor en ná 2003 gepleeg is, toe nuwe wetgewing oor seksuele misdrywe in werking getree het.

Die nuwe aanklagtes teen die akteur (63) sluit in drie aanklagtes van onsedelike aanranding, drie van seksuele aanranding en een aanklagte om ʼn persoon sonder instemming by seksuele aktiwiteit te betrek.

Maroela Media het vroeër berig Spacey het in Julie vanjaar by die Old Bailey-hof in Londen onskuldig gepleit op vier aanklagtes van seksuele aanranding teen drie mans. Nie een van die beweerde slagoffers kan egter ingevolge Britse wetgewing geïdentifiseer word nie.

Dié bewerings hou verband met ’n tydperk toe Spacey tussen 2004 en 2015 die kreatiewe direkteur van die Londense Old Vic-teater was.

Die akteur het egter nog altyd aantygings van seksuele misbruik ontken.

’n Regsgeding vir seksuele wangedrag van $40 miljoen teen Spacey is verlede maand deur ʼn hof in New York in die VSA uitgegooi. Die akteur Anthony Rapp het in dié saak aangevoer dat Spacey hom as tiener op ʼn partytjie van Spacey in die 1980’s seksueel aangerand het.

Spacey se loopbaan het vyf jaar gelede tot ʼn einde gekom toe Rapp se bewerings aan die lig gekom het.

In 2019 is aanklagte teen die akteur van onsedelike aanranding en seksuele aanranding in Massachusetts laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

RC007 ·

Ek weet nie hoeveel klagtes die man nou nog in sy sak wil gooi nie, maar ek dink nie daar is meer Spacey.

Luna ·

Toe die saak uitgegooi is deur die hof het Spacey seker gedink “and that is a “Rapp”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.