Nog wilde beweringe uit die wêreld van ‘Tiger King’

Carole Baskin. (Argieffoto)

Dit blyk dat tiere vandeesweek nie net opslae in Suid-Afrika gemaak het nie.

Die skokkende onthulling dat Carole Baskin, ʼn diereregte-aktivis wat bekendheid verwerf het vir haar rol in die uiters gewilde Netflix- dokumentêre minireeks Tiger King, se vermiste eksman, Don Lewis, na bewering lewend in Costa Rica gevind is, het vandeesweek die internet behoorlik laat gons.

Aanhangers en kykers van die reeks het egter dié wilde bewering klaarblyklik misgekyk toe Baskin dit tydens ʼn onderhoud in November 2021 met ITV se This Morning-geselsprogram gedeel het.

Lewis is in 2002 wettiglik dood verklaar nadat hy met $1 miljoen (sowat R17,31 miljoen) wat Baskin na bewering aan hom gegee het, in Costa Rica verdwyn het.

Die Tiger King Joe Exotic, oftewel Joseph Maldonado-Passage (Foto: Netflix/TigerKingMMM/Facebook)

Baskin het in dié destydse ITV-onderhoud gesê dat die nuwe inligting vir haar ʼn hoogtepunt van Tiger King se tweede seisoen was, maar dit blyk dat haar stellings teenstrydig met dié van die polisie is.

Die New York Post berig dat die Hillsborough-beamptes se ondersoek en soektog na Lewis steeds hangende is, ondanks die feit dat hy wettiglik dood verklaar is.

Baskin se Tiger King-vyand, Joe Exotic (oftewel Joseph Maldonado-Passage) het haar lankal daarvan beskuldig dat sy haar eksman vir tiere by haar diereskuiling gevoer het.

Exotic dien tans 22 jaar tronkstraf uit nadat hy skuldig bevind is aan sy aandeel in ʼn huurmoordpoging op Baskin en weens die dood van talle tiere.

Bronne: New York Post, ITV, NZ Herald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.