Nuwe Australiese premier het groot planne

Australië se nuwe premier, Anthony Albanese, onderteken ‘n amptelike dokument ná hy ‘n eed tydens ‘n seremonie by die regeringshuis in Canberra afgelê het. (Foto: SAEED KHAN / AFP)

“Ek wil die land verander.”

Só sê Australië se nuutverkose eerste minister, Anthony Albanese, nadat Scott Morison die afgelope naweek tydens die Australiese algemene verkiesing uit die kussings gelig is en kiesers ’n einde aan nege jaar van konserwatiewe bewind gemaak het.

Morrison het Saterdag die nederlaag aanvaar en as leier van die Liberale Party bedank. “Ek het nog altyd in Australiërs en hul oordeel geglo, en ek was nog altyd bereid om hul uitsprake te aanvaar en vanaand het hulle hul uitspraak gelewer.”

Albanese van die sentrum-linkse Arbeidersparty het intussen gesê hy wil die manier verander waarop politiek in Australië funksioneer. Die nuutverkose premier is vroeër vandag (Maandag) ingesweer voordat hy na Tokio sal reis vir die sogenaamde Quad-beraad.

Dit is in dié stadium nog nie duidelik of die Arbeidersparty genoeg parlementêre setels sal wen om ’n volstrekte meerderheid te behaal, en of die party hom tot onafhanklikes of kleiner partye sal moet wend vir ondersteuning nie.

Amptelike resultate het getoon dat die Arbeidersparty na verwagting 75 setels sal wen. Dit plaas die party amper binne bereik van die 76 setels wat nodig is vir ʼn meerderheid in die laerhuis met 151-setels.

‘n Australiër stem Saterdag tydens dié land se algemene verkiesing. (Foto: STEVEN SAPHORE / AFP)

Albanese het Sondag kort voor vandeesweek se beraad met Japanse, Indiese en Amerikaanse leiers onderneem dat Australië meer op klimaatsverandering sal fokus en betrekkinge met die res van die wêreld sal herstel.

Die land is die afgelope paar jaar geteister deur droogte, verwoestende bosbrande en oorstromings.

Albanese het onderneem om meer ambisieuse teikens vir die vermindering van koolstofemissies te stel en sonnige Australië ʼn supermoondheid vir hernubare energie te maak.

Albanese het intussen reeds ’n oproep van pres. Joe Biden van die VSA ontvang.

“Pres. Biden het diepe waardering uitgespreek vir… Albanese se vroeë verbintenis tot die alliansie, weerspieël in sy besluit om byna onmiddellik na Tokio te reis om die Quad-beraad by te woon,” het die Withuis in ʼn verklaring gesê.

Die beraad vind Dinsdag plaas. Albanese sal na verwagting Woensdag na Australië terugkeer.

“Dan spring ons aan die werk,” het die premier gesê.

Dié beeld van Scott Morrison is Saterdag voor sy nederlaag in Bondi Beach, Sydney, gesien. (Foto: STEVEN SAPHORE / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Jou onse president Cyril Ramaphosa het ook groot planne ….’n groot nuwe stad, spoed treine tussen al die groot stede, nog 15 bulle, R350 miljoen aan Kuba, ‘n vlagpaal wat blykbaar nou sy gat gesien het, en om nie die 2024 verkiesing te verloor nie, soe die verneuk planne is al klaar in plek!

Hennie Biebouw ·

Covid het beslis die “great reset” ingelei.

Daar is nie ‘n politieke leier op die planeet wat skynbaar die nagevolge van Covid, en hoe sy regering dit hanteer het, gaan oorleef nie.

Treurwilger ·

Die gemiddelde Australiër nie intelligent genoeg om te besef dat Morrison se ruim “jobkeeper”- toelae die state se gewilde Labor- premiers in staat gestel het om Covid met die mins moontlike skade aan die ekonomie te oorleef nie.
Die man wat hulle ‘gered’ het, word nou in die tande geskop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.