Nuwe fregat gaan skepe in Rooisee beveilig

Lede van die Jemen-kuswag, lojaal aan die internasionaal erkende regering, tydens ‘n patrollie in die gebied. (Foto: Khaled Ziad/AFP)

Duitsland gaan in Augustus ʼn nuwe fregat na die Rooisee stuur om skepe te help beveilig. Die roete word reeds maande lank ontwrig deur aanvalle deur Jemen se Iran-gesteunde Houthi-rebelle.

Die Hamburg sal die Hessen vervang. Laasgenoemde het Saterdag die sone verlaat, het Boris Pistorius, Duitse minister van verdediging, gesê.

Die Hessen is sedert 23 Februarie in die gebied ontplooi as deel van die Europese Unie (EU) se Aspides-sending om skepe in die gebied te beskerm.

Luidens die verklaring het die Hamburg altesame 27 handelskepe in die ingrypingsone begelei en het hy op vier geleenthede hommeltuig- en missielaanvalle deur die rebelle afgeweer.

Nagenoeg 240 militêre personeellede is aan boord.

Die Houthi-rebelle het Donderdag gesê hulle het al byna 100 vaartuie in die Rooisee en die Golf van Aden in maande lange aanvalle geteiken.

Hulle het skepe in die gebiede in November begin aanval, ʼn veldtog wat volgens die rebelle veronderstel is om as ʼn vertoon van steun vir Palestyne in die oorloggeteisterde Gaza-strook te dien.

Die aanvalle op die belangrike skeepsroete is sedert Januarie begroet met teenaanvalle deur Amerikaanse en Britse magte.

Die VSA, ʼn noue bondgenoot van Israel, het laat verlede jaar ʼn multinasionale taakspan op die been gebring om skeepvaart in die Rooisee te “beskerm”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.