Nuwe koalisie ontsetel Israel se Netanyahu

Naftali Bennett, Israel se nuwe eerste minister. (Foto: Gil Cohen-Magen/AFP)

Naftali Bennett, ʼn skatryk voormalige tegno-entrepreneur, sal Israel se nuwe eerste minister wees nadat die parlement Sondag ʼn nuwe regering goedgekeur het.

Die Knesset met sy 120 lede het ten gunste van ʼn onwaarskynlike koalisie gestem wat saamgestel is deur Yair Lapid, leier van Israel se grootste opposisieparty. Die meerderheid was uiters skraal, net groot genoeg om die veteraan Benjamin Netanyahu ná 12 jaar aan die stuur uit die kussings te lig.

Bennett, ʼn vervreemde voormalige protégé van Netanyahu, sal voortaan as eerste minister dien as deel van ʼn rotasie-ooreenkoms, voor Lapid oor twee jaar oorneem.

Die 49-jarige voormalige minister van verdediging lei die regse Yamina-party wat al vir Israel gevra het om dele van die Wesoewer te annekseer. Hy sal Israel se eerste premier wees wat ʼn openlik gelowige leefstyl volg en die eerste om ʼn kippa, die klein kopbedekking vir gelowige Joodse mans, te dra.

Bennett is die seun van Amerikaans gebore ouers en praat foutloos Engels. Hy is ultra-liberaal oor die ekonomie en neem sterk standpunt in teen Israel se aartsvyand, Iran.

Hy deel dié ideologie met Netanyahu, nadat hy in verskeie van die Likud-leier se regerings gedien het. Spanning het die afgelope ruk tussen hulle verhoog en Netanyahu het weinig gedoen om sy afkeer van Bennett weg te steek.

Laat verlede maand, twee maande ná Israel se vierde onbesliste verkiesing in twee jaar, het Bennett ʼn ooreenkoms met Lapid bereik wat die weg gebaan het vir ʼn onwaarskynlike agtparty-koalisie wat die regering Sondag goedgekeur het.

Opruiende opmerkings

Bennett woon saam met sy vrou, Gilat, en hul vier kinders in die sentrale stad Raanana.

Hy het die politiek betree nadat hy sy tegno-maatskappy vir $145 miljoen in 2005 verkoop het en het die volgende jaar stafhoof vir Netanyahu geword wat destyds ʼn opposisielid was.

Nadat hy weg is uit Netanyahu se kantoor, het Bennett in 2010 die hoof van die Yesha-raad geword, wat hom beywer vir Joodse setlaars op die Wesoewer. Hy het die politiek in 2012 stormgeloop en beheer geneem van die regse Jewish Home Party, wat in daardie stadium gedreig het om in te plof.

Hy het sy parlementêre teenwoordigheid verder verhoog met ʼn vlaag opruiende opmerkings oor Palestyne. In 2013 het hy gesê Palestynse “terroriste behoort doodgemaak, nie vrygelaat te word nie”.

Hy het ook aangevoer die Wesoewer word nie beset nie, omdat daar “nooit ʼn Palestynse staat daar was nie” en dat die Israel-Palestina-konflik nie opgelos kan word nie, maar verduur moet word “soos skrapnel in die agterstewe”.

Benewens die verdedigingsportefeulje het Bennett ook gedien as Netanyahu se minister van onderskeidelik die ekonomie en onderwys.

Hy het Jewish Home as die “Nuwe Regse” party bestempel, voordat hy die Yamina-blok in 2018 gevestig het. Hy was deel van Netanyahu se koalisie voor dit dieselfde jaar ineengestort het.

Hy is egter nie gevra om deel te vorm van ʼn eenheidsregering in Mei verlede jaar nie, ʼn stap wat beskou is as ʼn uitdrukking van Netanyahu se persoonlike weersin in hom.

Verlede jaar, in opposisie en met die koronaviruspandemie wat woed, het Bennett sy regse retoriek opsy geskuif om op die gesondheidskrisis te fokus. Hy het sy steunbasis verhoog deur planne bekend te maak om die virus in bedwang te bring en die ekonomie te help.

Natuurlike opvolger

Voormalige ondersteuners en kritici het Bennett daarvan beskuldig dat hy sy nasionalistiese kiesers verraai het.

Bennett hou egter vol hy is op ʼn missie om Israel se regering reg te ruk en ʼn vyfde verkiesing in net meer as twee jaar te verhoed.

In ʼn onderhoud met Channel 12 regverdig Bennett sy besluit om by die koalisie aan te sluit, ten spyte van uitdruklike verkiesingsbeloftes om nie deel te wees van ʼn regering wat gevorm of gelei word deur Lapid nie.

“Die sleutelbelofte van daardie verkiesing was om Israel uit chaos te help,” sê Bennett.

“Ek het gekies wat goed is vir Israel.”

Hoewel daar ʼn risiko is dat Bennett sy tradisionele stembasis kan vervreem deur ʼn verkiesingsbelofte te verbreek om Netanyahu uit die kussings te lug, kan Bennett se skuif ook beteken dat sy langtermyn-steunbasis vergroot.

“Die kans om as eerste minister te dien is ʼn groot geleentheid vir Bennett om homself te bewys as eersteminister-materiaal,” sê Toby Green, ʼn politieke wetenskaplike verbonde aan die Bar Illan-universiteit naby Tel Aviv.

Kiesers kan Bennett dus moontlik beskou as ʼn natuurlike opvolger vir Netanyahu en ʼn kandidaat wat bewys het dat hy die land kan bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Hmm… maar die lont is net twee jaar verder aan die brand en die rokie het ‘n klankie. Dit klink baie soos boem, boem.

Grassie ·

Die man klink na ‘n yster. Ek dink die Iraniërs en die Filistyne is bekommerd.

Boon ·

Met sulke ekstremiste aan die stuur van verdeelde land, is dit geen wonder dat Israel en Palestina in n Permanente staat van oorlog verkeer nie. Hy moet liewers die Torah bestudeer en doen wat die ou profete geskryf het.

JohanR ·

Sou ook voorstel ‘n paar Muslims lees en bestudeer die Koran? Hoekom is ‘n Jood soe beneuk? Want net ‘n paar jaar gelede….76 om presies te wees wou ‘n mal man elke Jood van die gesig van die aarde afvee. As ek ‘n Jood was sou ek ook net soe tikkie beneuk wees want 76 jaar later moet ek nog veg vir my bestaan op die aarde, terwyl vyande al om my probeer om my nog steed uit te wis. Op die oomblik probeer Syria om die Yazidism geloof uit te wis.

Grassie ·

Ek dink Boon hierbo kan maar gerus wees. Ek dink die betrokke mense ken die Torah omtrent uit hul kop uit. In die Torah word die grense van die land Israel noukeurig deur die Skepper beskryf. Dit is die enigste land in die wêreld wie se kaart en transport in die bybel aangeteken is en dit is heelwat groter as die flentertjie land wat Israel vandag is. Miskien gaan die Israeliete nog op ‘n dag die grense trek en al die ongewenstes daar verwilder. Ek glo ook dit is die rede waarom Israel die Wesoewer so stelselmatig stukkie vir stukkie oorneem.

KB ·

Dis tyd vir ‘n koalisie-regering in Suid-Afrika…Israel het die SA-regering nou mooi gewys hoe dit gedoen word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.