Nuwe moderekord vir ikoniese prinses Diana-rok

Dié rok, gedra deur prinses Diana, is vir sowat R21 miljoen verkoop. (Foto: Julien’s Auctions/Instagram)

ʼn Ballerina-styl rok wat wyle prinses Diana vir die eerste keer in 1985 gedra het, is vir £904 262 (sowat R21 miljoen) opgeveil. Die bedrag is sowat 11 keer meer as wat afslaers verwag het.

Die swart fluweelrok is vroeër vandeesweek by Julien’s Auctions in Hollywood opgeveil en hou ook nou die rekord van die duurste rok van Diana wat tot dusver op ʼn veiling verkoop is.

Daar is geskat dat die rok vir sowat £100 000 (naastenby R2 miljoen) verkoop sou word, ʼn skatting wat vinnig verkeerd bewys is. Die uitrusting bestaan uit skouerkussings, ʼn blou organza-romp en ʼn lyfband.

Die wyle prinses van Wallis is in 1985 vir die eerste keer in die rok gekiek terwyl sy ʼn besoek aan Florence, Italië, saam met koning Charles (destyds nog prins Charles) gebring het. Diana is in 1986 weer in die uitrusting gesien tydens ʼn vertoning van die Vancouver-simfonieorkes.

Die rok wat voorheen die meeste ponde laat inrol het, was ʼn 1991-fluweelrok ontwerp deur Victor Edelstein. Dit is vir £476 437 (sowat R11 miljoen) verkoop.

Ander items wat opgeveil is, sluit in ʼn Givenchy-rok wat Audrey Hepburn in 1963 gedra het, ʼn moulose rok wat Gloria Swanson in die 1950-fliek, Sunset Boulevard, gedra het, en Barbra Streisand se matroosrok wat sy tydens ʼn spesiale vertoning, My name is Barbra, in die 1960’s gedra het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.