NY-vrou voor baba op straat doodgeskiet

Die toneel in die Upper East Side in New York. (Foto: Twitter)

’n New Yorkse vrou is Woensdagaand op straat doodgeskiet waar sy haar drie maande oue baba in ʼn stootwaentjie in die gegoede Upper East Side gestoot het.

’n Gewapende man het die 20-jarige vrou van agter af genader en een keer van naby in die kop geskiet voordat hy weggehardloop het.

Die skieter het ’n swart kappietop en swart broek aangehad. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die New York Times berig die voorval het net voor 20:30 by East 95th Street naby Lexingtonlaan by die Samuel Seabury-speelterrein plaasgevind.

Die vrou is ná die skietery na die Metropolitan Hospital Center geneem waar sy later dood verklaar is. Haar baba is ongedeerd.

Die baba is wel hospitaal toe geneem om ondersoek te word, berig The Washington Post.

Julie Menin, ’n lid van die stadsraad wat ’n deel van die Upper East Side-buurt verteenwoordig, het die moord as “absoluut verfoeilik” beskryf.

Inwoners is ook geskok.

“Dit is ’n wonderlike woonbuurt,” sê Rahul Rathod, wat nege maande gelede ingetrek het. Volgens Rathod is dit saans stil in die buurt weens die groot aantal ouer inwoners. Kinders speel egter tot laat nag nog basketbal op die Seabury-bane.

Luidens die New York Times se berig is dit die eerste moord in die betrokke gebied vanjaar, met slegs een moord verlede jaar in dié gegoede buurt. Teen Sondag was daar egter reeds 624 skietvoorvalle vanjaar oor New York heen aangemeld vergeleke met 710 skietvoorvalle oor dieselfde tydperk in 2021 – ’n afname van 12%, maar steeds 28% meer vergeleke met 2019.

“Hierdie aanhoudende vuurwapengeweld moet end kry,” beklemtoon Menin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Perdeby ·

Gelukkig weet ‘n baba van 3 maande dit nog nie, en het seker deur alles geslaap.

Anel ·

En dan sê hulle Suid Afrika is onveilig! Sal eerder hier bly. Hier weet ons ten minste wie ons vyande is en ons is “street smart”! Daar word almal maar vertrou.

annie ·

Wat is ‘n gegoede buurt? Is dit waar goeie mense wat met goeie geld ‘n goeie kopie gemaak het nou rustig hul goeie lewe geniet? By ons was daar ook destyds ‘n Kaap van Goeie Hoop. Ons is gou ontnugter.

Blikkies ·

Kom maak asseblief ‘n draai hier by ons, wil graag dan julle kommentaar hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.