Olimpiese Spele: Eerste toetsbyeenkoms waarskynlik uitgestel

(Foto: AP Photo/Jae C. Hong)

Die eerste toetsbyeenkoms vir vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio sal na verwagting uitgestel word weens reisbeperkings te midde van die Covid-19-pandemie. Japan verkeer nog in ’n noodtoestand, het plaaslike media Woensdag berig.

Sowat tien lande sou van 4 tot 7 Maart aan die toetsbyeenkoms vir artistieke oftewel gesinchroniseerde swem in die Tokyo Aquatics-sentrum deelneem. Dié byeenkoms, wat dien as die finale kwalifiseringskompetisie vir die Olimpiese Spele, kan volgens Japanse media egter nou eers in April of Mei plaasvind.

Luidens mediaberigte het betroubare bronne gesê dat die Internasionale Swemfederasie (FINA) en die Japanse Swemfederasie (JASF) ooreengekom het dat reisbeperkings op buitelandse burgers wat Japan binnekom die organisering van die toetsbyeenkoms bemoeilik.

Nié FINA, JASF of Tokio 2020 het egter nog op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Japan se grense is in dié stadium gesluit vir buitelandse besoekers met Tokio en ander dele van die land wat tot minstens 7 Februarie in ʼn noodtoestand verkeer. Die reisverbod was aanvanklik nie van toepassing op atlete wat na Japan sou kom om voor te berei vir die Olimpiese Spele nie. Die regering het egter dié voorreg vroeër vandeesmaand opgeskort.

Maroela Media het vroeër berig toenemende kommer oor vanjaar se Olimpiese Spele bestaan, hoewel die organiseerders volhou dat dit voortgaan.

Die gesinchroniseerde swembyeenkoms sou die eerste toetsbyeenkoms wees met streng maatreëls wat gehandhaaf word om die veiligheid van deelnemers te verseker.

Die hoofde van die reëlingskomitee sê dit is “absoluut onmoontlik” om die Spele weer uit te stel, wat beteken dit gaan gekanselleer word as dit nie vanjaar voortgaan nie. Hulle gaan intussen voort met ʼn rits maatreëls om veiligheid te verseker, selfs sonder ʼn entstof wat nie verpligtend vir atlete is nie.

Maatreëls sluit in ʼn verbod op ondersteuners wat juig, gereelde toetse vir atlete en beperkte verblyf in die Olimpiese dorpie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.