Oorlog stuit nie verliefdes se trouplanne

‘n Trouseremonie in Oekraïne (Foto: Sergeo Supinsky, AFP)

Eerder as sjampanjeproppe wat skiet, moes Tetyana op die dag van haar troue wakker skrik met die geluid van vuurpyle wat naby haar huis afgevuur word.

“Ek het eers gedink dit is donderweer, maar die lug was helder. Toe besef ek dat die oorlog op ons is,” het die 31-jarige Oekraïense ontwerper gesê.

Oorlog en ontploffings het egter nie Tetyana en haar verloofde, Taras, se planne om te trou, gestuit nie en hulle is ses ure ná die eerste ontploffing in die eg verbind.

“Ek het aanvanklik gedink ons moet die troue kanselleer, maar my verloofde het vir my gesê ons moet voortgaan. Die oorlog het geen reg om ons planne te verwoes nie,” sê Tetyana.

Die egpaar is in Junie getroud in die industriële middelpunt van Kremenchuk, sowat 250 km suidoos van Kiëf.

Taras wou graag ʼn lentetroue hê.

“Ons het in Mei besef dat die oorlog nog lank kan duur. Ons het besluit om die lewe nie tot later uit te stel nie want, soos hierdie oorlog ons gewys het, later kan dalk nooit gebeur nie.”

Onseker oor die toekoms

Tetyana en Taras is nie die enigstes wat tydens konflik trou beloof het nie. Volgens syfers wat deur AFP bekom is, was daar ’n massiewe oplewing in troues sedert die aanvang van die oorlog in Oekraïne.

In die Poltava-streek, waar Tetyana en Taras ewig trou aan mekaar beloof het, is altesaam 1 600 troues aangemeld in die eerste ses weke ná Rusland se inval op 24 Februarie, vergeleke met 1 300 troues in 2020.

In Kiëf is altesaam 9 120 huwelike in die afgelope vyf maande geregistreer, ʼn groot toename van die 1 110 huwelikseremonies wat oor dieselfde tydperk in 2021 plaasgevind het.

Sowat 40 paartjies het onlangs hul lewens saam in een registrasiekantoor in die middestad van Kiëf begin.

Daria Steniukova, ’n 31-jarige joga-onderwyseres van Winnitsia, 200 km suidwes van Kiëf, het weke lank haar troue met die 30-jarige Vitalii Zavalniuk beplan, en selfs ’n Russiese bomaanval kon nie hul planne in die wiele ry nie.

’n Russiese kruismisiel het die middestad net twee weke voor hul troue verwoes en die lewens van 26 mense geëis. Die registrasiekantoor was beskadig en Steniukova se woonstel vernietig.

“Ons was geskok, maar vasbeslote om met die troue voort te gaan. Tou opgooi was nie ʼn opsie nie. My huis is verwoes, maar nie ons lewe nie,” het sy gesê.

Onsekerheid oor wat die toekoms kan bring, het jong minnaars al in die verlede genoop om impulsiewe lewensbesluite te neem.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog in 1942 het die Verenigde State altesaam 1,8 miljoen troues in 12 maande aangeteken – ’n toename van 83% van ’n dekade vroeër.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.