‘Oppenheimer’, ‘Succession’ maak skoonskip by Golden Globes

Robert Downey Jr. het ʼn toekenning vir sy toneelspel in ‘Oppenheimer’ ontvang. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Al het Barbie ʼn allemintige nege Golden Globe-benoemings ontvang, was Oppenheimer die groot wenner by vanjaar se toekenningsgeleentheid in Beverly Hills, Kalifornië.

Dit is die 81ste jaar wat dié gesogte beeldjie vir uitnemendheid in die internasionale rolprent- en televisiebedryf toegeken word.

Jo Koy, komediant en akteur, was die seremoniemeester.

Oppenheimer is vir agt toekennings benoem en het uiteindelik vyf toekennings in die sak gesteek.

Christopher Nolan is as die beste regisseur aangewys, terwyl Cillian Murphy en Robert Downey Jr vir hul toneelspel in die fliek bekroon is. Die fliek het ook die toekenning ontvang vir die beste oorspronklike musiek, en is as die beste drama-rolprent van die jaar aangewys.

Greta Gerwig se Barbie het die toekenning ontvang vir die grootste “Blockbuster”-fliek vir die jaar. Billie Eilish en Finneas het ook die toekenning vir die beste oorspronklike liedjie in ʼn fliek vir Barbie se “What was I made for?” gewen.

Succession was die voorloper in die televisie-afdeling, en het uiteindelik vier toekennings ingeoes. Dit is as die beste TV-drama aangewys, terwyl Kieran Culkin, Sarah Snook en Matthew Macfadyen vir hul toneelspel vereer is.

The Crown se Elizabeth Debicki, wat die rol van ʼn ouer prinses Diana vertolk het, is as die beste aktrise in ʼn ondersteunende rol aangewys.

Emma Stone het ʼn Golden Globe-toekenning vir haar toneelspel in Poor Things ingeoes, terwyl Ali Wong bekroon is vir haar werk in Beef.

Emma Stone het ʼn toekenning vir haar rol in ‘Poor Things’ ontvang. (Foto: Gilbert Flores/Golden Globes/AFP)

Dié kortreeks het ʼn paar toekennings gewen, met Steven Yeun wat met die toekenning vir die beste toneelspel deur ʼn akteur in ʼn beperkte reeks weggestap het. Beef is ook aangewys as die beste beperkte reeks van die jaar.

Hoewel Trevor Noah se Trevor Noah: Where was I benoem is, het Ricky Gervais uiteindelik die toekenning vir beste skerp skertsery (standup-komedie)gewen vir sy optrede in Ricky Gervais: Armageddon.

Elizabeth Debicki is bekroon vir haar rol in ‘The Crown’. (Foto” Gilbert Flores/Golden Globes/AFP)

Ander wenners sluit in Poor Things (beste musiekspel of komedie), Anatomy of a Fall (beste draaiboek), The Bear (beste komediereeks) en The Boy and the Heron (beste animasierolprent).

Flieks en reekse soos The Color Purple, Saltburn, May December, The Last of Us, The Diplomat, The Morning Show, Abbott Elementary, Only Murders in the Building, Shrinking, Lessons in Chemistry en Daisy Jones & the Six is ook vir toekennings benoem.

Bykomende bronne: Variety, People

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.