Oslo-skieter dalk Islam-terroris

Noorse media het die Oslo-skieter as Zaniar Matapour geïdentifiseer (Foto: Twitter)

Die 42-jarige Noorse man van Iranse afkoms wat Saterdagoggend etlike minute ná die skietery in Oslo, Noorweë, in hegtenis geneem is, is volgens die polisie moontlik betrokke by ʼn Islamitiese ekstremistiese netwerk en ly boonop glo aan ʼn geestesongesteldheid.

Noorse media het hom as Zaniar Matapour geïdentifiseer.

Twee mense is dood en minstens 21 beseer ná ʼn skietery Saterdag omstreeks 01:00 op drie plekke in sentraal-Oslo, waaronder die London Pub-gayklub, die Herr Nilsen-jazzklub en ʼn wegneemete-winkel.

Altesaam 21 mense is beseer tydens die skietery in Oslo (Foto: Javad Parsa, AFP)

Die twee slagoffers was mans in hul 50’s en 60’s. Die beseerdes is tans in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.

Matapour het tot dusver geweier om deur ondersoekers ondervra te word.

Noorweë se binnelandse intelligensiediens, wat verantwoordelik is vir die bestryding van terrorisme, sê hy ondersoek die aanval as “ʼn daad van Islamitiese terrorisme”. Matapour is sedert 2015 op die intelligensiedienste se radar.

Die verdagte “het ʼn lang geskiedenis van geweld en dreigemente”, het Roger Berg, die intelligensiedienste se hoof, gesê.

Volgens Berg ervaar die verdagte ook “probleme met sy geestesgesondheid”.

Volgens Matapour se prokureur, John Christian Elden, verwag hy dat sy kliënt onder “geregtelike waarneming” geplaas sal word om sy geestestoestand te bepaal.

Veiligheid opgeskerp

Noorweë se intelligensiedienste het die land se bedreigingsvlak van matig tot “buitengewoon” verhoog.

Polisieteenwoordigheid is deur die hoofstad verskerp en beamptes – wat nie gewoonlik gewere in Noorweë dra nie – is opdrag gegee om hulself te bewapen.

Die Franse president, Emmanuel Macron, en die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, was van die wêreldleiers wat die aanval veroordeel het.

Die Amerikaanse president, Joe Biden, se nasionale veiligheidsraadgewer, Jake Sullivan, het die skietery as “afgryslik” beskryf.

Noorweë het laas in 22 Julie 2011 ʼn terreuraanval beleef toe die regse ekstremis Anders Behring Breivik altesaam 77 mense vermoor het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JM ·

Wat ek nie kan verstaan nie: Noorwee was bewus van Matapour se misdaadrekord. Waarom was hy nie gedeporteer nie?

Hoekom ·

Dit in ‘n land met baie streng vuurwapen beheer. Dalk as die vuurwapen beheer nie so streng was nie, dan was daar minder slagoffers. Vuurwapen wetgewing verhoed glad nie kriminele se toegang tot vuurwapens nie, dit verhoed net wet gehoorsame burgers en beperk hulle vermoë vir self verdediging in sulke gevalle.

Vat Switzerland as voorbeeld. Is daar enigsins vuurwapen geweld in Switzerland?

Barney ·

Ja, dan vat jy die VSA waar daar amper geen beheer is nie en kyk wat die vuurwapen geweld daar is. Ek vir een wil nie in ‘n eetplek of enige ander plek wees waar mense met gewere rondloop nie

Anton ·

Daar is baie beheer in die VSA. Wapengeweld is meestal die resultaat van geen toepassing van die bestaande wette nie. Meeste geweld vind plaas in die “inner city”. Dit is ‘n kultuur probleem, nie ‘n wapen probleem nie.

hpven ·

Oorlogvoering van die lafhaard! Tree slegs op teen ongewapende burgerlikes want is te lafhartig om teen weermagte te veg. Klink bekend as ons die anc se geskiedenis in ag neem….

marius ·

Pluk maar die vrugte van jul ondeurdagte besluite . Julle was gewaarsku .

Brenda ·

Altesaam 21 mensee dood??? onder 2de foto, die berig lees 2 dood

Janice du Plessis ·

Dagsê Brenda
Dankie vir jou kommentaar.
Die onderskrif is intussen gewysig.
Groetnis,
Janice
Nms Maroela Media

Anton ·

Wanneer ‘n sielsieke in ‘n suidelike staat in Amerika massa skiet, is alle Christene en Trump ondersteuners skuldig.
Wanneer ‘n Moslem dit doen, is hy geestelik versteurd

ES ·

Hulle moet net bloot ophou om vlugtelinge van risiko lande te aanvaar.

Sobymykoolkop ·

Dit lees ons by ELKE berig oor ń skietery. As die skuldige nie vir ń haatmisdaad aangekla kan word nie
( lees wit persoon) dan is daar ALTYD ń geestesongesteldheid betrokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.