Pers atletiekbaan vir Spele in Parys

Mondo-werknemers werk aan die nuwe pers atletiekbaan vir die Olimpiese Spele in Parys. (Foto: Marco Bertorello / AFP)

Die treffende pers atletiekbaan wat die Italiaanse maatskappy Mondo vir die Olimpiese Spele in Parys vervaardig, kan dalk die vinnigste baan nóg wees vir topatlete wat om ʼn gesogte medalje meeding.

Mondo, wat in die dorpie Alba in Italië se Piedmont-streek geleë is, het dié baan vir die eerste keer in 1976 vir die Spele in Montreal gemaak. Die “Mondotrack EB” sal nou vir Parys se 13de Olimpiese Spele aangepas en vir 46 van die 48 atletiekitems by die Stade de France gebruik word.

Mondo sê die nuwe oppervlak is ʼn verbetering op die een wat by die Olimpiese Spele in Tokio in 2020 gebruik is en waarop atlete drie wêreldrekords laat spat het. Onder dié rekordbrekers was Karsten Warholm en Sydney McLaughlin-Levrone wat nuwe rekords in die 400 m-hekkies vir onderskeidelik mans en vroue opgestel het.

“Ons het die ontwerp van die selle aan die onderste laag van die baan verander van dié wat vir die baan in Tokio gebruik is,” het Maurizio Stroppiana, adjunkpresident van Mondo se sportafdeling, gesê.

“Dit verminder atlete se energieverlies en stuur dié energie na hulle terug op die kruin van beweging.”

Andrea Marenghi, bestuurder van navorsing en ontwikkeling by Mondo, sê egter dat die maatskappy nie sommer net kan maak wat hy wil wat die baan se samestelling betref nie.

“Daar is baie streng kriteria deur die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) daargestel om atlete te beskerm en nie hul tegniek te belemmer nie.

“Atlete presteer beter as ooit en die baan bied niks wat hierdie atlete nie reeds het nie.”

Anders as die tradisionele terracotta-kleur sal die Parys-baan pers wees.

Marenghi sê twee nuwe skakerings sal gebruik word: een vir die mededingingsgebied en een vir die tegniese gebied. Dit sal ook slegs vir die Spele in Frankryk gebruik word.

“Ons wou ʼn oorspronklike kleur hê,” het voormalige tienkampatleet Alain Blondel, hoof van atletiek- en para-atletiek-geleenthede by die Parys Spele, gesê.

“Die twee skakerings sorg vir maksimum kontras op beeldmateriaal en plaas klem op die atlete.”

Die baan, wat altesame 21 000 m² groot is, is dalk perskleurig, maar dit is ook “groener” as ooit tevore aangesien dit met baie natuurlike materiaal vervaardig word.

“Nagenoeg 50% van die baan se komponente is herwinbaar of van herwonne materiaal … ons was net oor 30% met die baan in Londen in 2012,” het Giorgio Lesage, hoof van volhoubaarheid en innovering by Mondo, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.