Perth steier onder brande én inperking

Ten spyte van tientalle brandbestryders se beste pogings, is die brande steeds nie in bedwang nie. (Foto: Trevor Collens/AFP)

ʼn Brand aan die buitewyke van Perth, Australië se vierde grootste stad, het reeds talle huise verwoes en inwoners is gedwing om hul huise te ontruim. Die verwoestende brande kom boonop net enkele dae nadat afsonderingsregulasies weens Covid-19 weer in die stad in werking gestel is.

Brandbestryders veg verbete teen die bosbrand wat in hierdie stadium buite beheer woed. Verskeie eiendomme is aan die brand en groot stukke grond lê verskroei.

Rook van die brande het asreën oor Perth se middestad laat uitsak. Brandbestryders werk in “uiters plofbare” omstandighede met temperature wat raak aan 37 °C.

“Die brand is in hierdie stadium sowat 7 000 ha in grootte met ʼn grenslyn van nagenoeg 75 km lank,” het Craig Waters, adjunkkommissaris van die brand- en nooddiensdepartement gesê.

Sterk wind het ʼn beduidende getal inwoners oornag gedwing om uit hul huise te vlug, terwyl honderde mense by ontruimingsentrums verwag word, het Waters gesê.

Burgemeester Kevin Bailey het vroeër vandag gesê minstens 30 huise is beskadig, terwyl Australië se 7News ʼn kort ruk gelede berig het minstens 57 huise is verwoes. Die kanaal berig ook dat minstens 200 brandbestryders in hierdie stadium nog spook om die situasie in bedwang te bring.

Minstens een brandbestryder word vir rookinaseming behandel.

Inwoners kyk na ‘n brand wat aan die buitewyke van Perth in Australië woed. Talle mense moes reeds uit hul huise vlug. (Foto: Trevor Collens/AFP)

Sakkie van der Merwe, ʼn oud-Suid-Afrikaner wat in 1996 na Australië emigreer het, het die brande as verskriklik bestempel. Hy sê die gebied is boonop bitter droog wat die situasie verder bemoeilik.

ABC berig Darren Klemm, kommissaris van die brand- en nooddiens, sê die brand is nie in bedwang nie, ondanks brandbestryders se enorme pogings.

“Mense wat in die noodwaarskuwingsgebied woon, kan nie terugkeer huis toe nie; dit is te gevaarlik en jy gaan nie net jou eie lewe in gevaar stel nie, maar ook dié van nooddienswerkers wat jou moontlik te hulp sal moet snel,” het Klemm gesê.

Perth is boonop in die tweede dag van ʼn vyf dae lange inperkingstyd wat ingestel is nadat ʼn veiligheidswag by ʼn kwarantynhotel positief vir Covid-19 getoets het.

Premier Mark McGowan sê twee noodsituasies staar die gebied in die gesig: ʼn brandgevaar én die Covid-19-pandemie.

Ingevolge die regulasies moet nagenoeg twee miljoen inwoners van Perth en die omliggende gebiede tuis bly.

Wes-Australië het grootliks die verwoestende brande van 2019-’20 vrygespring. Dit het hoofsaaklik in Nieu-Suid-Wallis en Victoria gewoed.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anti-Verkramp ·

‘n Mens emigreer na ‘n ander land toe. Maak tog reg.

Megan Swart ·

Dagsê Anti-Verkramp
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

QueenB ·

Agge nee Juf verkramp jy jou afrikaans met 100% geslaag seker

Vrijburger ·

“Maak tog reg”? Wat van eerder ‘Maak asb reg”?

Kobus ·

Anti-Verkramp is geïrriteerd met onverskillige taalversorging, blyk dit – die “tog” dui op ongeduld met die situasie. Dit is nie ‘n oefening in sjarmante taalgebruik nie. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.