Picasso-werk haal meer as R2 miljard op veiling

Pablo Picasso se “Woman with a watch” is vir meer as R2 miljard op ‘n veiling deur Sotheby’s in New York, VSA, verkoop. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Een van die Spaanse kunstenaar Pablo Picasso se bekende kunswerke, “Woman with a watch”, is Woensdagaand op ʼn veiling deur Sotheby’s in New York, VSA, vir $139,3 miljoen (sowat R 2,6 miljard) verkoop.

Dit is die tweede hoogste bedrag wat een van Picasso se werke nog ooit op ʼn veiling behaal het. Picasso se “Les Femmes d’Alger” (“Women of Algiers”) is in Mei 2015 vir $179,4 miljoen opgeveil.

Die veiling het Woensdag telefonies plaasgevind en die kunswerk, wat in 1932 voltooi is, is binne etlike minute verkoop. Sotheby’s se geraamde waarde vir die skildery was meer as $120 miljoen (sowat R2,3 miljard).

Die kunswerk, bekend as “Femme a la montre” (“Woman with a watch”), beeld een van die kunstenaar se metgeselle en muses, die Franse skilder Marie-Thérèse Walter, uit.

Walter word gereken as Picasso se “goue muse” en verskyn ook in van sy ander kunswerke soos “Femme endormie” (“Sleeping woman”) en “Femme assise pres d’une fenetre” (“Woman sitting near a window”). Albei dié skilderye is ook vir astronomiese bedrae verkoop.

Picasso en Walter het mekaar in 1927 in Parys, Frankryk, ontmoet toe sy net 17 jaar oud was. Picasso was toe nog getroud met die Russies-Oekraïense balletdanser Olga Khokhlova. Die egpaar het ʼn dogter gehad, wat verlede jaar oorlede is.

“Woman with a watch” vorm deel van die afslaerhuis se spesiale verkope uit ʼn kunsversameling van die New Yorkse kunsbeskermheer Emily Fisher Landau, wat vroeër vanjaar in die ouderdom van 102 oorlede is.

Sotheby’s het altesaam reeds $406 miljoen (sowat R7,7 miljard) se verkope uit Landau se kunsversameling behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ben ·

Ek is oortuig ek sou ñ beter “job” gedoen het.
My kleindogter in die kleuterskool het al vir my beter prentjies geteken.
Mense se koppe raas, wat sulke skilderye koop. Of dalk is dit geldwassery.

Gaitsigubib ·

Ek is ootuig jy sou n beter job doen Ben. Die mense koop egter die tipe goed. Kyk hoeveel mense in die VSA het tans n kopdokter nodig net om deur die dag te kom, dan maak dit sin as hulle hierdie afgryslike tekening as kuns beskou.

hpven ·

Ben ek het dieselfde gedink… Maar blybaar werk dit so, mens het dit of het dit nie!
Byvoorbeeld, ons gewildste sangers het nooit talent of Idol kompitiesies gewen want hulle het dit nou maar net! Ander wat wel gewen het verdwyn weer net. So my vriend ek en jy het dit maar net nie… Ons sal maar ons geld met sweet moet verdien.

Suzette ·

Wonder ek ook. Hoeveel honger magies kan gevul word met daardie belaglik prys vir n ding waarna ek nie eers wil kyk nie? Aaklig verby wil dit nie eers verniet he nie

Vonkprop ·

Belaglik om so baie vir sulke gemors te betaal. Koop eerder ‘n mooi luukse herehuis of ‘n eiland of ontwerp en bou jou eie motor of enigiets. Jy kan daardie nie eens in jou huis ophang nie. Ja hy gaan tien teen een met waarde opskiet in die toekoms, maar liewe aarde dit is lelik.

Gaitsigubib ·

Vonkprop jy kan die voor die hand liggende raak sien. Baie geluk. By mense gaan alles oor groepsdruk. Jy sal bv. mense kry wat gif in hul are spuit en dit op sosiale media plaas asof dit n prestasie is en skierlik wil almal dit doen. Om beginsels te he is vir sommige mense die belangrikste aspek van jou bestaan op aarde. Noem dit egter verkramp en niemand wil so wees nie, want nounou is jy teen die mode. Kuns werk ook so. Jou kind kan daardie snert beter teken, maar die belangrike hoer klas het baie daarvoor betaal, so dan is dit baie spoggerig.

Minnie ·

Jislaaik….dis darem n lelike prentjie haha, en vir so baie geld. Ek sal dit nie eers gratis in ons huis hang nie…..

Republikein in die Wes Kaap ·

Sommige kunstenaars en politici is dieselfde. Hulle bedrieg almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.