Prins Charles aanvaar skenking van Bin Ladens

Prins Charles, Britse troonopvolger, se liefdadigheidsorganisasies is al geruime tyd in die spervuur. (Foto: Andrew Milligan/ AFP)

Prins Charles, die Britse troonopvolger, het ʼn skenking van £1 miljoen (sowat R20 miljoen) aan sy liefdadigheidstrust aanvaar van die familie van die meesterbrein agter die 9/11-terreuraanvalle in die VSA.

The Sunday Times berig hoewel daar geen sprake van wandade deur die Saoedi-familielede is nie, het die onthulling nietemin opnuut die soeklig geplaas op die 73-jarige prins se liefdadigheidsorganisasies wat die afgelope paar maande geruk is deur bewerings van misdadigheid.

Verskeie van sy raadgewers het Charles gemaan om nie die skenking van die familiepatriarg Bakr bin Laden en sy broer Shafiq – halfbroers van die terroristeleier Osama bin Laden – te aanvaar nie.

Charles het die skenking aan die Prins van Wallis-liefdadigheidsfonds aanvaar toe hy Bakr (76) in 2013 in Clarence House ontmoet het. Die koerant berig dit is gedoen ten spyte van die besware van die raadgewers van sy trust en sy kantoor.

Ian Cheshire, voorsitter van die prins se trust, sê vyf trustees het destyds ingestem tot die donasie.

Die Britse polisie het in Februarie ʼn ondersoek na nog een van Charles se liefdadigheidsorganisasies van stapel gestuur weens bewerings dat geld betaal is vir ʼn eretoekenning. ʼn Saoedi-sakeman word ook hierby betrek.

Die hoof van The Prince’s Foundation het verlede jaar ná ʼn interne ondersoek na die bewerings bedank.

Michael Fawcett, uitvoerende hoof van die stigting, het aanvanklik ingestem om opsy te staan ná onthullings in koerante oor sy bande met ʼn Saoedi-burger.

Die betrokke sakeman, die magnaat Mahfouz Marei Mubarak bin Mahfouz, het groot bedrae geld aan restourasieprojekte wat prins Charles besonder na aan die hart gelê het, geskenk.

Fawcett, ʼn voormalige persoonlike lyfbediende van die prins wat al jare lank baie na aan hom is, het glo pogings bewimpel om ʼn koninklike eerbetoon en selfs Britse burgerskap aan Mahfouz te bewerkstellig.

Mahfouz ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het.

Die liefdadigheidskommissie, wat die registrasie van liefdadigheidsorganisasies in Engeland hanteer en ʼn oorsigrol daaroor speel, het in November aangekondig dat hy ʼn formele ondersoek gaan doen na skenkings wat Mahfouz se liefdadigheidsorganisasie gedoen het en wat glo vir die prins se stigting bestem was.

The Prince’s Foundation, ʼn organisasie wat al in 1986 op die been gebring is, word nie deur die kommissie gereguleer nie, maar is onder Skotse wetgewing geregistreer.

Die Skotse liggaam het in September verlede jaar sy eie ondersoek laat doen na berigte dat die stigting kontant van ʼn Russiese bankier ontvang het wat voorheen aan geldwassery skuldig bevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die rykes en beroemdes se stigtings is normaalweg niks anders as ‘n front vir geldwassery.

Judy ·

Gaan maar oral in die wereld die selfde. Maak nie saak waar jy bly of hoe goed jy is nie.

Mariana ·

O nou ja toe. Wonder wat dink die koningin en sy kinders daarvan?

Pietertjie ·

Dieselfde vriendekring, as jy mý vra. Jy word mos aan jou vriende geken…

philippus ·

Gedink die Britte weet dit. Gupta Bin Laden. Mense uit daai streek in die wereld is nie bekend vir eerbaarheid nie

ES ·

Wanneer die Britse koninklikes inniglik omverskoning vra vir Kitchener se “scorched earth” policy wat hulle goedgekeur het, dan sal ek hul miskien ernstig opneem.

Ons voorouers het in haglike omstandighede in konsentrasiekampe moes deurbring en derduisende vroue en kinders het gesterf en plase is afgebrand en mans en seuns summier doodgeskiet.

Hierdie ruik na korrupsie – daardie hele familie is korrup al van die begin af.

miavos ·

Dis nie Prins Charles self wat die donasie aanvaar het nie.

Maria ·

Soos ek dit het is die Bin Laden familie n uitgebreide groep. Osama was die vrot eier en die swart skaap/terroris van die familie. Die skenking het direk aan die prins se liefdadigheidstrust gegaan, Hy maak nie self geld daaruit nie.. Dit gesê, die royals is nie almal juis watse mense nie, geld korrupteer swakkelinge

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.