Prins Harry, Meghan deel groot nuus

Prins Harry en Meghan verwag hulle tweede kind. (Foto: @misanharriman/Twitter)

Prins Harry en sy vrou, Meghan Markle, het op Valentynsdag ʼn swart-en-wit foto van die egpaar uitgereik waar hulle onder ʼn boom vir mekaar sit en glimlag, met Meghan (39) wat met ʼn swanger magie spog.

“Ons kan bevestig dat Archie ʼn ouboet gaan word. Die hertog en hertogin van Sussex is verheug oor hulle tweede kind,” het ʼn woordvoerder van dié gesin bevestig.

Die aankondiging volg dae ná prinses Eugenie, ʼn kleindogter van koningin Elizabeth II, ʼn babaseuntjie verwelkom het.

Die nuus kom ook presies 37 jaar nadat koerante in Brittanje bekendgemaak het dat prins Charles en prinses Diana vir Harry, hul tweede kind, verwag.

“Haar majesteit, die hertog van Edinburgh, die prins van Wallis, en die hele gesin is verheug oor die nuus en wens hulle voorspoed toe,” het ʼn woordvoerder van die Buckingham-paleis gesê.

Misan Harriman, ʼn vriend van die egpaar wat die foto geneem het wat uitgereik is, het op Twitter geskryf: “Meg, ek was daar by julle troue om te sien hoe hierdie liefdesverhaal begin, en my vriend, ek is geëerd om dit op film vas te lê soos wat dit groei.”

Die nuus volg op Meghan se bekendmaking in November dat sy ʼn miskraam in Julie 2020 gehad het. Sy het haar verhaal in ʼn essay in The New York Times gedeel.

Megxit

Meghan en Harry (36) het in Maart verlede jaar amptelik uit die koninklike diens getree en woon nou in Kalifornië.

Die paartjie se vertrek uit die koninklike diens, wat deur die Britse pers as Megxit gedoop is, is met veel meer gemengde reaksies begroet as toe hulle trouseremonie in 2018 in Windsor Castle wêreldwyd gekyk is.

Gerugte oor ʼn skeuring tussen Harry en sy broer, prins William, het ook kort daarna die ronde begin doen.

Sedert die paartjie se vertrek het hulle verskeie regsgedinge aanhangig gemaak teen koerante oor ʼn inbreuk op hulle privaatheid.

Meghan het juis Donderdag ʼn saak teen Associated Newspapers in Brittanje gewen. Die hofsake het kritiek ontlok omdat die egpaar hulself in die openbare oog plaas met talle opspraakwekkende kommersiële projekte.

Verlede jaar het hulle ʼn niewinsgewende organisasie, Archewell, van stapel gestuur ná hulle die Sussex Royal-handelsmerk moes prysgee as deel van die bepaling van hul vertrek uit die koninklike pligte.

Meghan en Harry het ook ander ondernemings begin, waaronder die ondertekening van ʼn ooreenkoms met Spotify om podsendings te vervaardig wat “opbouende en vermaaklike stories” vertel.

Die egpaar het ook ʼn kontrak met Netflix onderteken, wat na berig word miljoene dollars werd is, om treffende rolprente en reekse te vervaardig.

Meghan, ʼn voormalige televisie-akteur, het vroeër al gesê trolle het haar lewe voorheen amper onleefbaar gemaak.

In 2016 het Harry ʼn verklaring uitgereik waarin hy “die rasse-ondertoon van kommentaarstukke” en “die seksisme en rassisme van sosialemedia-trolle” veroordeel het. Dit was ʼn ongekende stap vir ʼn koninklike tot dusver.

Druk van poniekoerante het Harry regdeur sy lewe geteister en hy pak ook die skuld op dié koerante vir sy ma, prinses Diana, se dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lucy100 ·

Hoekom word nog na Harry verwys as “Prins* Harry? Het hulle dan nie afstand gedoen van hulle titels nie? Meneer sal doen of het ek nou die kat aan die stert beet?

Racheltjie Debeer ·

Hulle het nie afstand gedoen van hul titels nie, slegs van hul koninklike pligte.
Harry sal altyd ‘n prins bly.

LIEZL ·

Hy is ‘n prins gebore, so sal as prins doodgaan. Hy het net vertrek uit die koninklike diens en pligte.

Natasha ·

Super opgewonde vir hulle! Mag als vlot verloop en hulle gesond wees.

twaalfboor ·

Harry sit en glimlag….. Meghan lê en glimlag. Altans dis hoe dit vir my in die foto lyk.

Chantel ·

Ek kan die vrou nie verdra nie, nog al die jare.
Eers vat sy die poniekoerant hof toe omdat hulle haar “privaatheid” skend en nou verklap hulle juis daai intieme privaatheid aan die hele wêreld. WAT wil sy nou eintlik he. Net my eie beskeie opinie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.