Prinses Kate sterk tuis aan ná operasie

Prins William en prinses Catherine, die prins en prinses van Wallis. (Foto: Yui Mok/AFP)

Die Kensington-paleis het Maandag gesê Catherine, prinses van Wallis, sterk by die Windsor-kasteel aan ná ʼn buikoperasie.

Die Britse prinses (42), vrou van prins William, is sowat twee weke gelede in die hospitaal opgeneem vir ʼn beplande operasie. Die presiese aard van die operasie is egter nie bekend nie.

“Sy maak goeie vordering,” lui die verklaring wat Maandag uitgereik is.

Die prinses het altesaam 13 nagte in die hospitaal deurgebring. Sy is nog nie weer sedert Kersdag verlede jaar in die openbaar gesien nie.

“Die prins en prinses wil graag hulle innige dank betuig aan die London Clinic, veral die toegewyde verpleegspersoneel, vir die sorg wat hulle gebied het.”

William en Catherine het ook hulle dankbaarheid uitgespreek oor die derduisende boodskappe van beterskap wat die prinses van reg oor die wêreld heen ontvang het.

Catherine is in dieselfde privaat hospitaal opgeneem as haar skoonpa, koning Charles III (75), wat besoek by haar afgelê het voordat hy Vrydag ʼn prosedure vir ʼn vergrote prostaat ondergaan het.

Luidens ʼn vorige verklaring sal die prinses na verwagting eers in April vanjaar haar openbare pligte hervat.

“Die prinses van Wallis vra om verskoning vir enigiemand wat geraak word deur die uitstel van haar pligte. Sy sien daarna uit om haar pligte so gou as moontlik te hervat.”

Bykomende bron: BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.