Rafael Nadal word pa

Rafael Nadal en sy vrou, Maria Francisca Perello, in November 2018. (Foto: Oscar Gonzalez/NurPhoto via AFP)

Die tennis-superster Rafael Nadal (36) en sy vrou, Maria Francisca Perello (34), is ʼn babaseuntjie ryker.

Die nuus is Maandag amptelik bekend gemaak. Die baba is in ʼn privaat kliniek in Palma, Mallorca, in Spanje gebore.

ʼn Bron het aan die Spaanse publikasie Diario de Mallorca gesê Perello en die baba, wat in die 37ste week van die swangerskap gebore is, vaar albei goed.

“Die geboorte het plaasgevind by ʼn privaat kliniek op die eiland, waar Mery vir ʼn paar weke moet bly om aan te sterk.”

Die egpaar, wat 14 jaar lank saam was voordat hulle in Oktober 2019 in Majorca, Spanje, getroud is, het in Junie die nuus bekend gemaak dat hulle eersteling op pad is.

Die Spaanse tenniskampioen het destyds sy vrou se swangerskap tydens ʼn mediakonferensie in Mallorca bekend gemaak.

“As alles goed gaan, gaan ek ʼn pa wees. Ek is nie gewoond daaraan om oor my privaat lewe te praat nie. Ons lei ʼn kalmer lewe en handhaaf ʼn lae profiel,” het hy tydens dié konferensie gesê.

Daar is nog geen amptelike kommentaar oor die geboorte vanuit Nadal of Perello se kraal nie en die baba se naam is ook nie bekend nie.

Bykomende bronne: Hello!, Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.