Raquel Welch (82) sterf

Raquel Welch in New York op 11 Mei 2017. (Foto: Matt Winkelmeyer/Getty Images for Barneys New York)

Die Amerikaanse aktrise Raquel Welch is Woensdag in die ouderdom van 82 jaar oorlede ná ʼn kort siekbed.

Haar bestuurder het die nuus van haar afsterwe aan AFP bevestig, maar het nie besonderhede oor die presiese oorsaak van haar dood verskaf nie.

Welch het destyds internasionale bekendheid verwerf toe sy in ʼn hertvel-bikini in die fliek One Million Years BC verskyn het.

Die Golden Globe-wenner het in meer as 30 rolprente verskyn, insluitend Fantastic Voyage en The Three Musketeers. Sy het ook in meer as 50 televisiereekse oor ʼn loopbaan van byna vyf dekades verskyn.

Haar outobiografie, Beyond the Cleavage, het in 2010 verskyn. Sy het in 2018 in ʼn onderhoud gesê sy het vrede gemaak daarmee dat sy vir altyd geassosieer sal word met die rol van die prehistoriese sekssimbool in die rolprent wat haar bekend gemaak het.

“Ek word gereeld gevra of ek nie moeg raak daarvoor om oor daardie bikini te praat nie, en die waarheid is ek doen nie,” het sy aan die Sunday Post gesê.

“Dit was ʼn groot gebeurtenis in my lewe, so waarom nie daaroor praat nie?”

Welch is in 1940 as Jo Raquel Tejada gebore en het in Kalifornië, VSA, grootgeword. Sy het in haar tienerjare ʼn rits skoonheidstitels ingeoes.

Raquel Welch in die bikini wat van haar ‘n internasionale ster gemaak het. (Foto: Facebook)

Sy het haar loopbaan as aktrise afgeskop deur ʼn paar klein rolle in flieks soos Roustabout (1964) teenoor Elvis Presley te vertolk. Sy het haar deurbraak gemaak toe sy in die 20th Century Fox-ateljee se wetenskapsfiksiefliek, Fantastic Voyage (1966), gespeel het.

Sy het in dieselfde jaar die rol in One Million Years BC vertolk en haarself as ʼn internasionale sekssimbool gevestig, ten spyte van die rolprent self wat middelmatige resensies ontvang het.

Welch het ʼn Golden Globe-toekenning gewen vir haar rol in The Three Musketeers (1973), waarin sy die rol van die koningin se rokmaker vertolk.

Sy is in 1982 tydens die verfilming van die fliek Cannery Row afgedank omdat sy daarop aangedring het om haar hare en grimering tuis te laat doen. Sy het die MGM-ateljee gedagvaar vir kontrakbreuk en het uiteindelik vir ʼn bedrag van $15 miljoen (sowat R270 miljoen) geskik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariaan ·

Mooi vrou..dinamies en talentvol gewees..en wat daarvan as jy op jou “ou” dag n paar goedjies laat reg trek…dis tog lekker om so mooi te wees al is jy al oud…selfversorging het maar n prys…as jy dit het en kan bekostig..trek die goedjies reg…sy was pragtig!

Vonny ·

Rus in vrede jou mooi , pragtige vrou!

Mensdom sò jaloers as n mens versorgd is.
Sad…

PersHeks ·

Sy was beslis een van die mees sensuele vroue in die filmbedryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.