Reuseoperasie om mensesmokkelaars vas te trek

(Foto: Engin Akyurt / Unsplash)

Altesame 212 verdagtes wat met mensesmokkelary verbind word, is tydens ʼn massa-operasie wat oor 44 lande gestrek het opgespoor, het die Europese polisiëringsagentskap Europol Donderdag gesê.

Byna 1 500 slagoffers, waarvan die meeste kinders is, is terselfdertyd geïdentifiseer.

Operation Global Chain, die operasie wat deur Oostenryk en Roemenië gelei is, het tussen 8 en 15 Mei plaasgevind en het polisie-, immigrasie- en grensowerhede sowel as kinder- en maatskaplike beskermingsdienste ingesluit. Dit is deur Europol, Interpol en die EU-grensagentskap Frontex gekoördineer.

Die operasie het gefokus op georganiseerde misdaadgroepe wat by mensehandel betrokke is, veral kinderhandel, seksuele uitbuiting, gedwonge misdadigheid en gedwonge bedelary.

Taakspanne het sowat 1,6 miljoen mense se besonderhede nagegaan, terwyl 25 400 plekke en 153 500 voertuie tydens die operasie deursoek is. Sowat 8 644 vlugte is ook gemonitor.

Volgens Europol is daar spesifiek gekyk na smokkelaars wat slagoffers van Suid-Amerika, Asië, die westelike Balkan en Oekraïne uitbuit.

Colombiaanse owerhede het sewe verdagtes in hegtenis geneem en 27 vroue-slagoffers van seksuele uitbuiting geïdentifiseer, terwyl 11 verdagtes in Noord-Masedonië vir die seksuele uitbuiting van minderjariges en mensehandel in hegtenis geneem is.

In Serwië is ses verdagtes vir die seksuele uitbuiting van tien vroue vasgetrek, terwyl ondersoekers in Swede vyf minderjarige seuns geïdentifiseer het wat gedwing is om op straat te bedel.

Baie van die slagoffers van mensehandel was kinders. Volgens Europol is dit egter ʼn misdaad wat nie voldoende by owerhede aangemeld word nie.

“Binne die EU word kinders in baie gevalle deur hul eie familie verhandel,” het Europol gesê.

Die agentskap sê voorts dat kinders van nie-Europese lande dikwels slagoffers word wanneer handelaars saam met volwassenes werk wat dié kinders vergesel en voorgee om hulle wettige voogde te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jasmyn ·

Daar moet bietjie ondersoek ingestel word na die area tussen Wepener en Zastron, veral Wepener self en die gedeelte tussen Wepener en Vanstadensrus…. mensehandel op sy sterkste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.