Robb Elementary glo binnekort gesloop

Die Robb Elementary School in Texas ná die skietery. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

Die Robb Elementary School in Texas gaan nou glo gesloop word nadat 19 leerders en twee onderwysers byna ’n maand gelede daar doodgeskiet is.

Don McLaughlin, burgemeester van Uvalde, het die nuus Dinsdag tydens ’n emosionele raadsvergadering met inwoners onthul, berig BBC.

“Soos ek verstaan – en ek het hierdie gesprek met die superintendent gehad – sal die skool gesloop word. Jy kan nooit van ʼn kind of onderwyser verwag om terug te gaan na daardie skool nie,” het McLaughlin tydens die vergadering gesê.

’n Nuwe skoolgebou sal na verwagting opgerig word.

Robb Elementary het byna 600 leerders tussen sewe en tien jaar oud en verskaf onderrig aan meestal Spaanssprekende en ekonomies benadeelde leerders.

Dit is nie duidelik wanneer die skool gesloop sal word nie, berig The Guardian.

Robb Elementary sal nie die eerste skool wees om ná ’n massaskietery gesloop te word nie.

Sandy Hook Elementary School in Connecticut is gesloop nadat 20 studente van ses en sewe jaar oud en ses personeellede in 2012 daar geskiet is. ʼn Nuwe skool is op dieselfde terrein gebou.

Die polisie in Uvalde word tans wyd gekritiseer oor hul reaksie op die dag van die skietery. Daar word beweer dat polisiebeamptes dié noodlottige dag tyd gemors het op soek na ʼn klaskamersleutel wat “nooit nodig was nie”.

Die polisiebeamptes word daarvan beskuldig dat hulle byna een uur en 15 minute lank buite klaskamers gewag het om die 18-jarige gewapende Salvador Ramos te konfronteer terwyl hy op kinders en onderwysers losgebrand het.

Ramos het eers sy ouma geskiet voordat hy na die Robb Elementary School is en met ʼn pistool en nog ʼn vuurwapen by die skool losgebrand het. Ramos is later deur die polisie doodgeskiet.

Steven McCraw, Texas se hoof van openbare veiligheid, het Dinsdag gesê daar was genoeg polisiebeamptes op die toneel om Ramos voor te keer, drie minute nadat hy die gebou binnegegaan het.

McCraw het voorts gesê die plaaslike polisiehoof, Pedro Arredondo, “het besluit om die lewens van beamptes bo die lewens van kinders te plaas”.

“Die beamptes het wapens gehad – die kinders het niks gehad nie. Die beamptes het opleiding gehad – die verdagte het geen [opleiding] gehad nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Niklaas ·

Kyk nou so ‘n verdere nasleep , weens ‘n versteurde jongman se onbesonne daad

Hippi ·

Verduidelik vir my die mentaliteit…….die geboue word gesloop want die mense is daar dood.
Die nuwe geboue wat daar opgerig gaan word gaan die mense laat vergeet dat daar n’ vorige skool daar was, waar die mense dood is? n’ Magical breinblok?
Die adres gaan verander na die nuwe geboue opgerig is?
“Jy kan nooit van ʼn kind of onderwyser verwag om terug te gaan na daardie skool nie,” het McLaughlin tydens die vergadering gesê.”
n’ Skool word weer daar opgerig?

Patrys80 ·

Die terrein als word verander soos met daai ander skool tot die bome is verander ja dit by die selle plek maar die skool omheining als word verander ja ek stem saam verander die skoolterrein in n park of iets bou die skool op n ander plek maar dit kos te veel so hulle behou eerder die plek vir n skool

Petrus Albertus ·

Die omvang van hierdie tragedie kan nie onder woorde gebring word nie. Waarom? Waarom?

Jaco ·

Wat dan nou van Joe Biden en sy hoogheilige Demokrate se “defund the police”, “human rights”, “a gun free society” en “healing America”? Sulke skietvoorvalle was dan, volgens die Demokrate, eerder eie aan die tyd wat “die rassistiese Trump” en sy Republikeine in beheer was. So hoe dan nou?

Vexed ·

Wel, dit verklaar hoekom feitlik alles in Suid-Afrika afgebreek word…

Jaco ·

Ekonomies benadeelde kinders in Amerika, een van die rykste, welvarendste lande in die wêreld. Hoe dan nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.