Rugbygemeenskap rou oor speler ná wedstryd sterf

Edwardo Nell (Foto: Namibia Rugby Union, Facebook)

Die rugbyklub FNB Wanderers in Windhoek is geruk ná die dood van een van sy spelers. Edwardo Nell het Saterdag ná ʼn rugbywedstryd tussen die derde spanne van die Wanderers en FNB Unam by die Unam-kampus se rugbyveld inmekaargesak.

Republikein berig Nell, ʼn skrumskakel, se ribbebeen het glo gebreek en sy long beskadig. Inwendige bloeding het ontstaan en hy het kort daarna gesterf.

Volgens The Namibian het die besering tydens die tweede helfte van die rugbywedstryd gebeur en paramedici het Nell dadelik ondersoek.

“Ná die wedstryd het Edwardo hom weer vir 20 minute by sy spanmaats in die kleedkamer aangesluit. Hy het ʼn koue stortbad geneem en gesê hy voel oukei,” het Willem van Zyl, die Wanderers se spanbestuurder, volgens The Namibian gesê.

“Ons is daarna na die Wanderers-klubhuis. Een van die spelers het ons ingelig dat Edwardo buite die Unam-rugbyveld inmekaargesak het. Paramedici is ontbied en hy is dadelik na die Katutura-hospitaal geneem. Hy het egter reeds inwendig te veel bloed verloor en het in die hospitaal aan sy besering omgekom.”

Nell saam met een van sy mede-spelers (Foto: Wanderers Sports Club, Facebook)

Die Wanderers-sportklub sê Nell was die afgelope paar jaar ʼn “trotse” Wanderers-speler wat skrumskakel vir die eerste tot die derde span gespeel het. “Om ʼn speler te verloor terwyl hy ons klub verteenwoordig, is die ergste wat kan gebeur …”

Die klub het ook sy diepe medelye met Nell se vriende en familie betuig. “Mag hy in vrede rus,” lui ʼn verklaring van die klub.

Nell is bestempel as ʼn positiewe man wat ook ʼn inspirasie vir ander was en op sosialemediaplatforms het medelye ook ingestroom.

“Skrumskakel van formaat en ʼn legende in ons harte,” skryf Christie du Plessis.

“Edwardo, ek kan nie glo jy is weg nie. Al wat ek kan sê, is dat ek bevoorreg was om jou my vriend te kon noem. Jy was altyd gelukkig en vol energie. Dit was sommer aansteeklik. Jy was nooit in ʼn slegte bui nie en het nooit die gewig van die wêreld op jou skouers gedra nie.”

“Jy was passievol oor sport en lief vir rugby. Jy het altyd 110% gegee,” skryf Mczene Valencia McNab.

Die Namibiese rugbyunie het ook gesê Nell se dood word diep betreur. “Ons innige medelye aan die familie, vriende, spanmaats en ondersteuners en ons wens die familie krag en vrede in hierdie routydperk toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Skappie ·

Sterkte aan sy familie, en vriendekring. Mag onse Liewe Jesus julle in sy arms vahou in hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle.

Yvonne ·

Dis baie tragies…..familie ek is so so jammer vir julle verlies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.