Ruimtetuig lê op sy sy ná maanlanding

Steve Altemus, uitvoerende hoof van Intuitive Machines, verduidelik hoe Odysseus op sy sy te lande gekom het tydens ʼn perskonferensie by die Johnson Space Center in Houston, Texas (23 Februarie 2024) (Foto: Handout/Nasa TV/AFP)

Die eerste Amerikaanse ruimtetuig na die maan sedert die Apollo-era lê waarskynlik op sy sy ná ʼn dramatiese landing, het die maatskappy wat dit gebou het, Vrydag gesê.

Grondspanne poog om data en oppervlakfoto’s af te laai van die onbemande tuig.

Die Odysseus-ruimtetuig het Donderdag om 18:23 (2323 GMT) naby die maan se suidpool geland ná ʼn angswekkende finale daling toe grondspanne na ʼn rugsteunstelsel moes oorskakel. Dit het ʼn paar minute lank geneem om weer radiokontak te herstel ná die tuig geland het.

Intuitive Machines, die privaat maatskappy wat verantwoordelik is vir die maanlanding, het aanvanklik op sosiale media gesê sy seshoekige tuig staan regop, maar uitvoerende hoof Steve Altemus het Vrydag aan verslaggewers gesê dié stelling is gemaak gebaseer op data wat nie korrek geïnterpreteer is nie.

Dit wil voorkom of die poot vasgehaak het op die oppervlak en die tuig toe omgeval het. Dit het horisontaal op ʼn klein rots te lande gekom.

ʼn NASA-tuig, genaamd die Lunar Reconnaissance Orbiter, sal moontlik oor die naweek foto’s kan neem van Odysseus om te bepaal presies waar die tuig te lande gekom het.

Odysseus word egter steeds as die eerste sukses beskou vir ʼn nuwe vloot van Nasa-gefinansierde maanlandingstuie wat ontwerp is om wetenskaplike eksperimente sal doen. Dit sal die weg baan vir die terugkeer van Amerikaanse ruimtevaarders na die maan binne hierdie dekade onder die Artemis-program.

ʼn Poging verlede maand deur ʼn ander Amerikaanse maatskappy, om op die maan te land, was onsuksesvol. Dit het baie op die spel geplaas om te wys dat die privaat bedryf in staat is om iets reg te kry wat die Amerikaanse ruimteagentskap laas in 1972 met sy bemande Apollo 17-sending reggekry het.

Altemus het later onthul dat Odysseus se eie laserstelsel nie aangeskakel het nie, omdat “iemand vergeet het om ʼn veiligheidskakelaar aan te skakel voor lansering”. Hy sê dit is “ʼn oorsig aan ons kant”.

Bevestiging van die landing moes sekondes ná die mylpaal gekom het, maar byna 15 minute het verstryk voor ʼn dowwe sein uiteindelik opgemerk is – genoeg om te bevestig die ruimtetuig is in een stuk en het sy doelwit gehaal.

Nasa het Intuitive Machines ʼn bedrag van $118 miljoen betaal om ses eksperimente te verskeep onder ʼn inisiatief waar vragdienste aan die privaat sektor uitgekontrakteer word.

Die VSA en ander internasionale vennote wil langtermyn-habitatte op die suidpool van die maan ontwikkel om ys te onttrek vir drinkwater en vuurpylbrandstof vir uiteindelike verdere togte na Mars.

Die eerste bemande landing onder Nasa se Artemis-program sal na verwagting teen 2026 plaasvind. China beplan intussen om sy eerste bemanning in 2030 maan toe te stuur.

Die sending was die vierde poging tot ʼn sagte maanlanding deur die privaat sektor. Intuitive Machines sluit aan by die nasionale ruimteagentskappe van die destydse Sowjetunie, die VSA, China, Indië en Japan vir ʼn eksklusiewe klub wat dit regkry om op die maan te land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hpven ·

@ Danie. Vra ek ook. Wonder of daardie vergeetagtige outjie nog ‘n werk het en minus hoeveel USD was sy uittree pakket?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.