Russiese opposisieleier uit hospitaal ontslaan

Alexei Navalny in die hospitaal. (Foto: Instagram)

Die Russiese opposisieleier Alexei Navalny is Dinsdag ná 32 dae in ’n hospitaal in Berlyn, Duitsland, eindelik ontslaan nadat hy verlede maand vergiftig is.

Volgens hospitaalpersoneel het sy toestand die afgelope maand in só ʼn mate verbeter dat hy ontslaan kon word. Dit is egter nie duidelik of Navalny ten volle sal herstel nie.

“Die geneeshere wat hom behandel het glo op grond van die vordering en huidige toestand van die pasiënt dat volkome herstel moontlik is, maar dit is nog te vroeg is om die potensiële gevolge oor die langer termyn van sy vergiftiging te bepaal.”

Navalny het verlede maand op ʼn vlug na Moskou begin siek voel waarna daar later vasgestel is dat hy vermoedelik met die dodelike senumiddel Novichok vergiftig is.

Sy span het verlede week bekend gemaak dat spore van Novichok kort ná die vergifting op ʼn bottel water in Navalny se hotelkamer gevind is.

Die Kremlin word van sy vergiftiging verdink aangesien dit dieselfde tipe senumiddel uit die Sowjet-era is wat ook in 2018 gebruik is in ’n aanval op ’n voormalige Russiese spioen.

Rusland ontken die bewerings ten sterkste.

Navalny se woordvoerder het vroeër aangedui dat die opposisieleier na Rusland sal terugkeer sodra hy weer op die been is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kosie ·

Ja natuurlik was dit Rusland. Sonder enige bewyse is dit altyd Rusland, want Rusland is mos so onnosel genoeg om hul eie mense te vergiftig wanneer hulle pyplyn (Nord strom2) klaar gebou is, sodat daar weer sanksies teen hulle ingestel kan word… /sarc

msp ·

Sterkte vir hom, hoop hy skop met die volgende verkiesing die regerindeparty onder die allie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.