Russiese plakker-diplomaat moet vort van bouperseel

‘n Russiese diplomaat verlaat die stuk grond waar Rusland beoog om ‘n nuwe ambassade te bou. Dis ‘n klipgooi van die parlementsgebou in Canberra, Australië. (Foto: Yoann Cambefort/AFP)

Rusland se planne om nuwe ambassade digby die Australiese parlement in Canberra te bou, het Maandag ʼn terugslag gekry toe ʼn hof in dié land die regering se aansoek om beslag te lê op die grond, toegestaan het.

Australië verhoed die Russe om die nuwe ambassade op die spesifieke plek te bou nadat intelligensieagentskappe gewaarsku het dat dit gebruik kan word as basis om om parlementslede te spioeneer.

Rusland het verlede week inderhaas ʼn hofbevel gekry om die grond te behou, terwyl die land terselfdertyd ʼn misterieuse diplomaat ontplooi het om op die grond te plak terwyl die hofsaak voortduur.

Australië se hooggeregshof het egter Maandagoggend beslis dat Rusland die perseel moet verlaat – minstens totdat die saak weer vir meer omvattende betoë aangehoor word.

Die plakker-diplomaat is gesien waar hy die perseel kort ná die uitspraak verlaat. Hy is weggeblits in ʼn diplomatieke voertuig.

“Die hof het dit duidelik gemaak dat daar in hierdie stadium geen wetlike basis is vir ʼn Russiese teenwoordigheid om op die perseel voortgesit te word nie,” het Anthony Albanese, Australiese eerste minister, na afloop van die uitspraak gesê.

“Ons verwag van die Russiese Federasie om in ooreenstemming met die hofbevel op te tree.”

Rusland het die huurooreenkoms vir die grond in 2008 oorgeneem en het in 2011 toestemming gekry om sy nuwe ambassade daar te bou. Verlede week het die Australiese regering egter bekend gemaak dat hy hierdie ooreenkoms nou opskeur.

Die Australiese parlement het wetgewing goedgekeur wat spesifiek daarop gemik is om te verhoed dat ʼn Russiese ambassade op die grond gebou word. Dit is sowat 400 meter van die parlementsgebou geleë.

“Die regering het baie duidelike veiligheidsaanbevelings gekry oor die risiko van ʼn Russiese teenwoordigheid só naby aan die parlementsgebou,” het Albanese vroeër gesê.

Nog hulp aan Oekraïne

Albanese het Mandag ook ʼn nuwe militêre hulppakket aan Oekraïne bekend gemaak. Dit sluit in 28 M113- gepantserde troepedraers en ʼn ongespesifiseerde hoeveelheid 105 mm-Howitzer-projektiele.

“Ons steun internasionale pogings om te verseker dat Poetin se aggressie misluk en dat Oekraïne se soewereiniteit en territoriale integriteit voortduur,” sê Albanese.

Die pakket sluit nie Hawkei- gepantserde patrollievoertuie óf nog Bushmaster-infanterievoertuie in nie. Oekraïne het vroeër albei versoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Treurwilger ·

Drink ‘n stywe dop vodka en vergeet die daaglikse dramas waarop die mensdom floreer.

JohanR ·

Ja nee ek sal ook nie ‘n Russise ambassade op my voorstoep wil he nie! Daar was ‘n tyd as jy vir mense in Europa gese het jy is wit en van Suid Afrika wAs jy amper net daar keel afgesny. Dink is nou die selfde vir ‘n Rus as hy/sy Rusland verlaat.

andre ·

Darem nie alle Australiers ondersteun Albanese nie . Baie kry swaar en en is glad nie tevrede hoe belastingfondse vermors word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.