Russiese tiener skiet klasmaats, toe haarself

Die wetstoepassingsowerhede buite die skool in Bryansk. (Foto:/ AFP)

ʼn 14-jarige Russiese meisie van Bryansk naby die grens van Oekraïne het Donderdag ʼn klasmaat doodgeskiet en vyf ander gewond voordat sy haarself by haar hoërskool om die lewe gebring het.

Russiese media berig die meisie het ʼn pompaksie-haelgeweer skool toe geneem waarmee sy vanoggend ʼn meisie in haar klas en toe haarself doodgeskiet het.

Vyf ander tieners is ook tydens die voorval by Gimnasium No. 5, ʼn hoërskool in ʼn voorstad van Bryansk, geskiet en sedertdien na ʼn kinderhospitaal geneem vir mediese behandeling.

Een van die gewonde tieners, ʼn seun, is in ʼn ernstige toestand en intussen na ʼn hospitaal in Moskou vervoer vir verdere behandeling.

Die Russiese polisie vermoed die jong skieter was moontlik in ʼn konflik met klasmaats betrokke.

Die tienermeisie wie se tweelingsussie ook in die klas was ten tyde van die skietery, se pa is intussen vir ondervraging geneem aangesien die vuurwapen wat die meisie gebruik het, in sy naam geregistreer is.

Die owerhede het ook reeds die gesin se woonstel deursoek.

Die goewerneur van die Bryansk-streek, Alexander Bogomaz, het die skietery ʼn  “verskriklike tragedie” genoem.

“My innige meegevoel met die ouers van die meisie wat aan die hand van die skieter gesterf het. Dit is ʼn verskriklike verlies.”

Noodlottige aanvalle by skole het die afgelope paar jaar meer algemeen in Rusland geword.

ʼn Gewapende man het in September verlede jaar 18 mense by ʼn skool in die westelike Russiese stad Izhevsk om die lewe gebring.

ʼn 19-jarige skieter het ook in 2021 nege mense by ʼn skool in Kazan vermoor. Nog ʼn skieter het dieselfde jaar ses mense by ʼn universiteit in Perm om die lewe gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.