SA’ner, suster en swaer sterf in vliegtuigongeluk

Twee ondersoekers van die Nasionale Vervoerveiligheidsraad, Clint Crookshanks (links) en Jennifer Homendy, staan by die toneel van die wrak van een van die vliegtuie. (Foto: Peter Knudson/NTSB via AP)

ʼn Suid-Afrikaner en voormalige Pretorianer en sy suster is onder die oorledenes wat verlede week in ʼn watervliegtuigbotsing in Alaska omgekom het.

Louis Botha (46) en sy suster, Elsa Wilk (37), is twee van die ses mense wat dood is toe twee besigtigingsvliegtuie Maandag 13 Mei in die suidooste van Alaska naby die dorp Ketchikan in die lug gebots het. Botha se swaer, Ryan Wilk (39), het ook in die ongeluk gesterf.

Volgens berigte was Botha saam met sy vrou, Theodore, op die besigtigingsrit toe die ongeluk plaasgevind het. Altesaam 14 passasiers was aan boord van die twee vliegtuie toe die botsing gebeur het. Al die insittendes was passasiers van die skip Royal Princess wat besig was met ʼn reis van sewe dag in die Alaska-omgewing.

Die ander oorledenes is Simon Bodie (56) van Tempe in Nieu-Suid-Wallis, Australië; Cassandra Webb (62) van St. Louis, Missouri; en Randy Sullivan (46) van Ketchikan. Sullivan was die vlieënier van een van die vliegtuie.

Josh Lindberg (links) en Eric Swenson van die Nasionale Vervoerveiligheidsraad, by die wrak van een van die vliegtuie. (Foto: Peter Knudson/NTSB via AP)

Volgens Fox 5 News was Botha ʼn suksesvolle elektriese ingenieur wat in San Diego gewoon het. Hy het volgens die nuusberig in 2001 na die VSA gëemigreer. Botha en sy vrou het Alaska besoek as deel van hul 20ste huweliksherdenking.

Botha se suster, Elsa, het in Vancouver in Kanada gewoon, maar sou na verwagting binnekort na Salt Lake City in Utah verhuis het. Associated Press berig haar man, Ryan, was ʼn kubersekuriteitskenner en vise-president van die Kanadese firma NuData Security, ʼn afdeling van MasterCard. Elsa het as ʼn bemarkingsdirekteur vir tegnologiemaatskappye in Vancouver gewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris Ws ·

Ai dis tragies!Ons meegevoel aan die familie en naasbestaandes van die oorledenes.

???? leser ·

simpatie met familie lede, die Here se Hand van bemoediging word oor julle gebid

Karinda ·

Ai dit is hartseer – arme families, veral die wat die boetie en sussie verloor het. Ketchikan is die mooiste dorpie.

Blommie ·

Ai tog hoe bitter jammer en hartseer. Sterkte aan al die familie. Aangesien die wilk’s bleikbaar ‘n egpaar was wonder ek is daar kinders wat nou wees is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.