SAner in Australië aangekla van moord op baba

Reinhardt Albert Bosch en Noemi Kondacs. (Foto: Facebook)

’n Suid-Afrikaans gebore man en sy vrou is Donderdag in Australië in hegtenis geneem in verband met die moord en marteling van hul sewe maande oue babaseuntjie. Hofstukke het intussen onthul dat die egpaar hul kind na bewering vir die grootste deel van sy kort lewe gemartel het, berig die Australiese publikasie The Courier Mail.

Die liggaam van Reinhardt Albert Bosch (33) en Noemi Kondacs (22) se babaseuntjie, Rhuan Immanuel Bosch, is Donderdag vroegoggend by hul huis in Yugar, noordwes van Brisbane, aangetref nadat Reinhardt paramedici omstreeks 06:45 na die huis ontbied het.

Plaaslike media berig die egpaar is glo “diep gelowig” en het na bewering oor die kind se liggaam gebid terwyl hulle gewag het vir die ambulans om op te daag.

Katarina Carroll, polisiekommissaris van Queensland, het aan ABC Radio Brisbane gesê polisiebeamptes het op ʼn  “verskriklike toneel” afgekom.

Caroll bestempel die toneel as “die aakligste en onthutsendste toneel wat jy as ʼn polisiebeampte ooit kan teëkom”.

“Dit is waarlik hartseer dat die kwesbaarstes in die gemeenskap nie beter beskerm word nie. Dit was ’n verskriklike toneel.

“Ek is al 30 jaar lank ’n speurder en dit was een van die onthutsendste tonele wat ek nóg teëgekom het,” het David Jackman, speurinspekteur van die Queensland-polisie, beaam.

Luidens Australiese mediaberigte het die egpaar reeds Vrydag virtueel in ’n hof in Brisbane verskyn op aanklag van moord en marteling. Reinhardt word ook aangekla van aanranding wat liggaamlike besering veroorsaak het terwyl hy gewapen was.

Die egpaar moet weer volgende maand in die hof verskyn en bly tot dan in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Francois ·

Vreskriklik om die berig te lees. Wat gaan aan met die mense. “Diep gelowige mense” is doodgewoon nie in staat tot soiets nie. Eerder die duiwel wat los is.

Roebs ·

Hoop hulle vrot in die tronk, daar is mense daar buite wat nie kan kinders he nie, wat so graag ‘n kind wil he.

Saartjievandiebosveld ·

Wat Gaan aan…hulle moet sielsiek wees om so iets aan ‘n kind te doen….

Proteablaar ·

Hoe kan mense So wreed wees? Daar is mense wat Al’s sal gee om ñ kind te kan hê.

Sharmane ·

Dis so siek. Maak seker jy raak nie swanger nie . Watter soort monsters is hulle net nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.